MAKHULU, WALTER PAUL KHOTSO

MAKHULU, WALTER PAUL KHOTSO (1935—), boorling van Johannesburg, voltooi sy teologie*studie aan die Anglikaanse* College of the Resurrection and St Peter’s in Rosettenville, en dien daarna in die bisdom van Johannesburg. Sy bediening word in die jare sestig onderbreek toe hy vlug vanweë sy betrokkenheid by die anti-apartheidstryd. In Engeland bedien hy gemeentes in die bisdomme van Londen en South Wark en werk daarna by die Wêreldraad van Kerke* in Genéve. Sy toegewydheid en besondere gawe vir tale (hy is al elf Suid-Afrika se tale magtig en ook nog Portugees, Spaans, Russies en Jiddies), laat hom vinnig opgang maak, en hy is betrokke by die afdelings vir menseregte*, vlugtelinge en die pastorale versorging van mense wat as gevolg van hulle geloof vervolg word. Self getuig hy dat daar twee sterk dryfvere in sy lewe is: sy liefde vir Jesus* Christus* en die wonder wat dit in die lewe van mense bewerk, en sy diepgewortelde geloof aan die waardigheid van alle mense. Hy word later biskop* van Botswana en nog later aartsbiskop van Sentraal-Afrika. Ekumenies* speel hy ’n belangrike rol as president van die All Africa Conference of Churches en medepresident van die Wêreldraad van Kerke.

Sidebar