MAKRO-GEMEENTE

MAKRO-GEMEENTE is die naam wat aan ’n bepaalde grootte gemeente* met ’n bepaalde bedieningsfilosofie en -struktuur gekoppel word. Binne ’n kerk* soos die NG Kerk* stabiliseer die lading lidmate* per predikant* op ongeveer 630 vir elke le­raar in die voltydse bedizening*. (Hierdie la­ding word egter steeds deur navorsers as onrealisties beskou.) ’n Makro-gemeente is volgens hierdie maatstaf ’n gemeente met drie, vier of meer leraars en met 2 000 en meer lidmate.

Vanweë die dinamika van groter ge­meentes, is die volgende kenmerkend van ’n makro-gemeente: spanleierskap, soms onder leiding van ’n “leierleraar”; ’n bedieningsfilosofie waar vernuwing en diversiteit ’n besliste rol speel; ’n verskeidenheid programme om diversiteit te akkommodeer; bestuursmodelle wat aan die sekulêre maatskappy herinner en wat gewoonlik aansienlik van dié van kleiner gemeentes verskil. Vanweë die grootte van makro-gemeentes word op verskillende maniere, maar veral deur kleingroepe, vir die behoefte aan intimiteit en geloofsgemeenskap voorsiening gemaak. Soms vertoon groot makro-gemeentes van die kenmerke van independente (“onafhanklike”) kerke, soos b­v ’n bepaalde selfgenoegsaamheid. Makro-gemeentes speel ’n belangrike rol in die vernuwende denke binne denominasies (kerkgenootskappe).

Sidebar