MALAN, DANIËL FRANCOIS

MALAN, DANIËL FRANCOIS (1874–1959) het in 1900 sy teologiese studie op Stellenbosch voltooi nadat hy reeds ’n MA in filosofie verwerf het. In 1905 behaal hy sy doktorsgraad in die teologie* aan die Uni­versiteit van Utrecht.

Malan het reeds in 1906 as jong pre­di­kant* by die taalstryd betrokke geraak, en het in 1912 deelgeneem aan die mislukte po­ging om die vier (wit) Nederduitse Gerefor­meerde sinodes* te verenig. As teoloog was hy nie streng ortodoks* nie en het bv vir die latere prof Johannes du Plessis*, toe vir twee kort periodes redakteur van De Kerkbode*, in sy meer liberale teologiese opvattings gesteun.

Malan verlaat die bediening om in 1915 stigter-redakteur van De Burger te word. Later, as hoofbestuurslid van genl Hertzog* se nuut gestigte Nasionale Party, word hy kabinetslid van die eerste Hertzog-kabinet. Malan besluit om nie Hertzog en Smuts* se samesmelting in die 1930’s te ondersteun nie, en hy word leier van die Nasionale Party. Malan se pogings in 1939 om versoe­ning met Hertzog te bereik, misluk, maar hy slaag gedurende die oorlogsjare daarin om die republikeinsgesinde Afrikaners* te beheer. Die Herenigde Nasionale Party wen in 1948 onder sy leiding in samewerking met die Afrikanerparty op verrassende en dramatiese wyse die verkiesing, en Malan word premier van die destydse Unie van Suid-Afrika. Die nuwe regering het aan bewind gekom met ’n beleid wat “apart­heid”* genoem is. Dit het in die plek van die  segregasie­benadering van vo­rige rege­rings ge­kom. Malan het be­gin met die instel­ling van ’n reeks apart­heidsmaat­reëls soos rasseklassifi­ka­sie, afsonderlike woonbuurte en die ontug*wet, en verset is met polisie-optrede bedwing. Revolusionêre be­dry­wighede is ge­smoor deur onder meer die verbanning van die Kom­mu­nistiese Party. Hoe­wel Malan in 1953 groeiende blanke steun met die verkiesing ge­wen het, het sy rassebeleid hom van die res van die Suid-Afrikaanse bevolking ver­vreem.

In 1949 het hy met die ingebruikneming van die Voortrekkermonument sy bekende “Afrikaner, Quo Vadis?”-toespraak gelewer met die oproep aan sy volksgenote: “Glo in jouself, glo in jou volk, glo in God”.

 

Sidebar