MALEAGI (BYBELBOEK)

MALEAGI (BYBELBOEK). Sommige navorsers glo dat Maleagi nie oorspronklik ’n aparte boek was nie, maar deel was van Sagaria* weens die volgende redes: Die woorde “’n Uitspraak van die Here” kom in die opskrif (1:1) sowel as in opskrifte by Sag 9:1 en 12:1 voor; die Hebreeuse woord wat as die eienaam Maleagi vertaal word, kan ook as “my boodskapper” vertaal word (v­g­l 1983-Afrikaanse Vertaling van 3:1 en Griekse* vertaling van 1:1); die opskrif verskaf geen historiese besonderhede van ’n profeet Male­agi nie. Ten spyte van bogenoemde argumente kan die boek Maleagi wel as aparte boek behandel word. Deur die eeue heen het verskillende tradisies dit as twaalfde boek of slot van die Boek van die Twaalf* gesien. Die finale samestel­ler(s) het spesifiek twaalf boeke gevorm aangesien dié getal ’n belangrike simbo­liese waarde in die Bybel* het.

Historiese agtergrond: Daar is eenstemmigheid onder geleerdes dat die boek in die Persiese* tyd geplaas moet word (waar­skynlik die eerste helfte van die 5de eeu vC). Die verwysing na die tempeldiens bete­ken dat die boek minstens ná 516/5 vC toe die tempel*2 voltooi is, gedateer moet word. Daar is talle ooreenkomste met die inhoud van Esra* en Nehemia*: die verantwoordelikhede van die priesters*1, die betaling van tiendes* en die belangrikheid van die Leviete*. In hierdie tyd is die Judeërs deur ’n vreemde goewerneur regeer (1:8) en was hulle in voortdurende vyandskap met die Samaritane* en Edomiete* (1:4).

Samestelling en verdeling: Maleagi het ’n unieke dialogiese styl waarvolgens daar ses stellings gemaak word wat telkens bevraagteken word: 1:2-5; 1:6–2:9; 2:10-16; 2:17–3:5; 3:6-12; 3:13–4:3. Byvoorbeeld: In 1:2 word daar ’n stelling gemaak “Ek het julle lief, sê die Here” waarna die vraag gevra word “Hoe het U ons lief?” Die antwoord wat 1:2-5 hierop gee, is dat Edom* verpletter moet word. Die slotgedeelte van die boek (4:4-6) bestaan waarskynlik uit twee byvoegings (4:4 en 4:5-6). Die oproep in 4:4 dui daarop dat die latere lesers geglo het dat die woorde van Maleagi in ooreenstemming is met die wet van Moses*. Mal 4:5-6 se verwysing na Elia* verbind die Boek van die Twaalf met die vroeër profete in Josua* tot Konings* asook die Nuwe Testament* (Matt 17:1-13; Luk 1:17).

Boodskap: Die term “verbond”* speel ’n belangrike rol in Maleagi se boodskap en daar word na drie verbonde verwys: die verbond tussen God en die Leviete* (2:4, 5, 8); die verbond tussen God en Israel* (2:10; 3:1); die verbond tussen man en vrou (2:14-16). Maleagi herinner die volk aan God se liefde*, sy vaderskap en sy keuse vir Jakob* (1:2-5; 3:17b). Omdat God hulle liefhet, word die priesters en die hele volk opge­roep tot geregtigheid* en gehoorsaamheid (1:6–2:16; 3:5, 18). Maleagi beklemtoon ’n opregte godsdiens, onder andere deur die gee van tiendes (3:6-12). Laastens bied die boek ’n uitsig op die toekoms. Die dag van die Here* se koms sal soos ’n brandende vuuroond wees. Diegene wat in opstand teen God kom, sal vernietig word en vir dié wat sy Naam eer, sal daar redding en ge­nesing wees (2:17–3:5; 3:13–4:3).

Vir verdere lees: PJ Botha 2001. “Honour and Shame as Keys to the Interpretation of Malachi” in: Old Testament Essays 14/3, 392-403. JJ Collins 2004. Introduction to the Hebrew Bible. Minneapolis: Fortress Press. A Hill 1998. Malachi (AB). New York: Double­day.

Sidebar