MALHERBE, DANIËL FRANCOIS

MALHERBE, DANIËL FRANCOIS (1881–1969) het in die Afrikaanse kultuur­geskiedenis van die eerste helfte van die 20ste eeu ’n belangrike rol gespeel. Hy het bekendheid verwerf as skrywer van veral Bybelse* en historiese romans en dramas. Die meulenaar (1926) was die eerste Afrikaanse plaasroman, en die bekende Hans-die-Skipper (1929) handel oor die see en konflik tussen ’n visserman-pa en sy rebellerende seun. Malherbe se Bybelro­mans sluit in Die hart van Moab (1933), Saul die worstelheld (1935 – oor koning Saul), Die profeet (1937 – oor Jeremia) en Boer­profeet (1953 – oor Amos). Hy skryf ook ’n pionierstetralogie: Die bergstroom ruis (1940), Vlam van die Suurveld (1943), En die wawiele rol (1945) en Over-die-berge (1961). Malherbe se heldekarakters beliggaam telkens sy siening oor die nasionale roeping van ’n volk. Met sy dramas Hulle wat verbygaan (1951) en Kind van die sonde (1959) sluit hy aan by sy Bybelromans. Malherbe was in wese ’n Afrikaner-nasionalis en het sy werke ook uit daardie perspektief geskryf. Hy het ’n eie bydrae tot die vroeë Afrikaanse prosakuns gelewer waarin volks- en taaltrou van deurslaggewende belang was. Malherbe staan byvoorbeeld téénoor die Sestigers en hulle “onvrome” roman­kuns wat ver afgewyk het van die koers wat hy wou loop. Literêr kan heelwat kritiek teen sy werk ingebring word: sy karakters is dikwels eendimensioneel en hy “gee voor­keur aan die deinende volsin met ’n volle klankorkestrasie waarin die betekenis van die enkele woord verdoof en weggesus word … Daarmee bring hy telkens die epiese gang van sy verhale tot stilstand” (JC Kannemeyer).

Vir verdere lees: JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004. Kaap­stad: Human en Rousseau.

Sidebar