MALULEKE, DANIEL

MALULEKE, DANIEL (1946–) het as 14-jarige seun vir die eerste keer skool toe gegaan, maar so gou sy merk gemaak dat hy na die Stofberg-Teologiese Skool (Univer­siteit van die Noorde) gestuur is om eers as evangelis en daarna as leraar* opgelei te word. Ná sy ordening in die destydse NG Kerk in Afrika* (NGKA) (1980), het hy as tentmaker-predikant en Tsonga-Bybelver­ta­ler (Khensani), as gemeentepredikant (Shing­wedzi), as saakgelastigde van die NGKA (Noord-Transvaal) en as direkteur van die Kerklike Aksie Noodhulp (KAN) op­ge­tree. Maluleke het by verskeie geleent­hede in die moderature (Kyk by: Moderator) van die Sinode van Noord-Transvaal en die Algemene Sino­de van die NGKA/VGKSA* gedien. Hy het sy doktorsgraad in praktiese teologie* aan die Universiteit van Pretoria behaal. Maluleke is ’n gebore leier wat baie gedoen het om die be­diening* van die kerk* te versterk. Sy werk by KAN, wat hy saam met sy lewenslange vriend ds Eddie Bruwer* gestig en bedryf het, het vir talle mense – armes, werkloses, MIV en vigs-slagoffers – gehelp om oor hulle omstandighede te triomfeer. Hy is ’n vaardige prediker en skrywer, wat met groot erns en passie – én ook met humor – vir geregtigheid* in die kerk en die samele­wing, asook vir die hereniging van die NG Kerkfamilie*, geywer het.

Sidebar