MANASSE

MANASSE beteken “om te vergeet” (Gen 41:51).

  1. ‑Manasse wat in Egipte* gebore is, was die oudste seun van Josef*. Sy nageslag het uit ’n volle stam bestaan. In die beloofde land is hierdie stam egter in twee gedeel. Die een deel van die stam het hulle ge­vestig aan die oostekant van die Jor­daan*, in die landstreek Basan*, vanaf die Jabbok* noordwaarts. Die ander deel van die stam het hulle aan die westekant van die Jordaan tussen Efraim* en Issas­kar* gevestig, ’n gebied wat strek vanaf die Jordaan tot by die Middellandse See. Hierdie stam het volgens die voorspel­ling van Jakob (Gen 48:1-22) baie minder besittings en mag gehad as Efraim.
  2. ‑’n Ander bekende Manasse was die seun van Hiskia* wat van 698–642 vC oor Juda*4 regeer het. Hy was 12 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 55 jaar lank regeer. In 2 Kon 21:1-18 word sy regering beskryf. Volgens die Deuterono­mistiese geskiedwerk* het hy gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here*, en was hy die hoofrede hoekom die koninkryk van Juda uiteindelik vernietig is. Kronieke* bied in 2 Kron 33:1-10 ’n soortgelyke beeld van Manasse, maar voeg dan vers 11-17 by waar beskryf word dat Manasse na Babilon* weggevoer is, dat hy tot inkeer gekom het, en dat hy ná sy terugkeer na Jerusalem* godsdiens­tige hervormings aangebring het. Hier­die beeld klop dus nie heeltemal met die baie negatiewe voorstelling van 2 Konings nie. ’n Pseudepigrafiese* geskrif wat ontdek is (geskryf in Grieks* en Siries) bevat egter ’n gebed van Manasse* waar­in hy die Here om vergifnis vra. Dit blyk dus wel dat daar ’n tradisie was wat van Manasse se inkeer vertel het.
Sidebar