MANDEBVU, DAVID PEDZISAI

MANDEBVU, DAVID PEDZISAI (–2004) het gedurende die 1960’s en 1970’s ’n belangrike leidende rol in die Reformed Church in Zimbabwe gespeel. Dit was ge­durende die oorgangsjare waarin die werk wat deur die NG Kerk* se sending*aksie in Masjonaland (Kyk by: Morgenster) begin is, oorgegaan het in die hande van die inheemse kerk. Mandebvu was gedurende daardie tyd twee keer as moderator* verkies en het ’n sleutelrol in die oorgangsproses gespeel. In 1961 word hy die eerste Zimbab­wiese dosent by die Murray-Teologiese Kollege op Morgenster. Later word hy die prinsipaal van die kollege. Gedurende daardie jare studeer hy deur Unisa en verwerf in 1976 BTh – ook weer die eerste le­raar uit sy kerk om hierdie onderskeiding te beurt te val. Ook as skrywer was hy ’n baanbreker en verskeie boeke verskyn uit sy pen, onder andere oor die geskiedenis van die sending.

Vir verdere lees: JM Cronje 1981. Aan God die dank: Geskiedenis van die sending van die Ned Geref Kerk, Deel 2. Pretoria: NGKB. J van der Merwe 1981. From Mission Field to Autonomous Church in Zimbabwe. Preto­ria: NGKB

 

Sidebar