MANICHEÏSME

MANICHEÏSME was ’n wêreldgodsdiens wat in die derde eeu ontstaan en vir onge­veer duisend jaar bestaan het. Dit is ge­noem na die stigter Mani. Hy was afkomstig uit ’n vooraanstaande Persiese familie. Toe hy 12 jaar oud was, het hy, volgens oorle­wering, ’n Goddelike openbaring ontvang dat hy die stigter van ’n nuwe godsdiens sou word en op 24 ontvang hy opdrag om dit te openbaar. Hy sien homself as die een wat die openbaring van Zarathoestra, ’n Persiese “messias” van ongeveer 1000 vC, en Jesus* moet bevestig, asook openbarings van Boeddha*.

Die Manicheïsme is dus ’n vermenging van verskillende godsdienste. Volgens Mani staan teenoor die goeie God met sy aeone, Satan met sy demone as ’n ewige vyand. Daar is ’n voortdurende stryd. Uiteindelik kom Christus* as die Oermens uit die son na die aarde – met ’n skynliggaam, want die stoflike is op sigself sondig. Sy lyding en sterwe was ook skyn en sy opstanding slegs ’n sinnebeeldige voorstelling van die uiteindelike oorwinning. Mani was die beloofde Trooster.

Die kerkvader Augustinus* was in sy jonger dae ’n tydlank ’n Manicheïs.

 

Sidebar