MANIKKAM, EDWARD JACANNA­THAN

MANIKKAM, EDWARD JACANNA­THAN (1954–Oorlede?) was een van die kleurrykste persoonlikhede in die Reformed Church in Africa (RCA)*. Ná sy daadwerklike bekering uit die Hindoeïsme* het hy opleiding as leraar* ontvang en betrokke geraak by die sending* van die NG Kerk* onder die Indiërs in Wes-Kaapland en spesifiek in Rylands. Daar was hy saam met ds DJ Pypers* en later ook ds D Naidoo vir sy hele bediening werksaam. In 1953 help hy om die ge­meen­te* in Rylands te stig. Met die vorming van die sinode* van die Indian Reformed Church, wat later die Reformed Church in Africa geword het, in 1968, dien hy as skriba van die sinode en daarna as aktuarius* en moderator*. Manikkam het oor ’n charismatiese persoonlikheid beskik en was ’n besonder boeiende prediker.

Einde 1979 is hy verkies as onderleier van die Demokratiese Party van SA, ’n posisie waaruit hy op versoek van die sinodale kommissie bedank het. Vyf jaar later, op 2 September 1984, verskyn daar egter ’n berig in die Sunday Times onder die opskrif “Dominee Manikkam quits pulpit for politics”. Hy beskryf sy besluit om die bedie­ning te verlaat, as ’n pynlike een, maar het geglo dat dit God se wil is dat hy in die politiek “die totale bevolking in hierdie land” sou kon dien, mense van alle kleure, godsdienste en geloofsoortuigings. Op 22 September 1984 het die RCA se sinodale kommissie besluit dat Manikkam sy predi­kantsbevoegdheid sou verloor, en daarmee het dié klein kerk een van sy sterkste leiersfigure aan die politiek prysgegee. Hy het in die driekamer-parlement gebly tot met die ontbinding daarvan.

Sidebar