MANNA

MANNA. Volgens Eks 16 het die Here* op ’n bonatuurlike manier aan die Israeliete* kos voorsien met hulle woestyntog op pad na die beloofde land. Hulle kry onder andere manna om te eet. Die Hebreeuse woord “manna” beteken: “Wat is dit?” Die naam verwys na die Israeliete se verbaasde vraag toe hulle dit die eerste keer gesien het. Hulle moes elke dag genoeg bymekaarmaak vir een dag, maar op die sesde dag moes ’n dubbele porsie – ook genoeg vir die sabbat* – ingesamel word. Manna is so wonderlik geag dat ’n hoeveelheid daarvan ook in die ark*2 geplaas is om saamgeneem te word as herinnering aan God se versor­ging in die woestyn. In Num 11:7-8 is ’n kort beskrywing van die manna.

Uitleggers wys daarop dat Arabiese* Bedoeïene tot vandag toe iets soortgelyk in die woestyngebiede insamel en eet (waarskynlik die soeterige en voedsame uit­skeidings van ’n soort insek wat op tama­risk­plante in die woestyn leef). Die wonderkarakter van die manna lê dus nie in die eerste plek in die kos self nie, maar in die feit dat dit dáár was toe die volk dit die nodigste gehad het.

Die Evangelie volgens Johannes* se verwysing na Jesus as die brood uit die hemel (Joh 6:31-65) herinner aan die manna in die woestyn.

Sidebar