MAO ZEDONG

MAO ZEDONG (in ouer geskrifte: Mao Tse-toeng) (1893-1976) vestig in die 1930’s ’n marxistiese (Kyk by: Marxisme) staat in Noordwes-China. Ná die Tweede Wêreldoorlog* werp sy leër die nasionalistiese bewind van Tsjang Kai-sjek in 1949 omver. Mao word die diktator in ’n kommunistiese* bedeling wat onder die naam Volksrepubliek China* die bewind oorneem. Hy bly tot met sy dood die partyleier. Sy “groot sprong na vore” om die Chinese ekonomie uit te bou, misluk. So ook die sg Kulturele Rewolusie, wat bedoel was om nuwe lewe in die kommunistiese bedeling in die land te blaas. Mao, wat dit die “Groot Proletariese Kulturele Revolusie” noem, gelas dat die ingewikkelde maatskaplike en regeringstrukture wat in die jare ná die kommunistiese magsoorname in 1949 ontstaan het, afgebreek moet word. Dit lei onder meer daartoe dat tienduisende intellektuele en staatsamptenare gedwing word om saam met kleinboere op plase te gaan werk. Ekstremistiese jong kommuniste, wat hulleself die Rooi Garde noem, verkry groot mag. Hulle skrikbewind lei tot die dood van baie mense wat deur hulle van anti-revolusionêre dade aangekla word, en ook tot die verwoesting van kunswerke en geboue uit die prekommunistiese tydvak. In die jare van Mao se bewind, het Christene in China swaar geleef. Sy spreuke (“Die rooi boekie”) was dekades lank verpligte leerstof vir alle Chinese skoliere.

 

Sidebar