MARAIS, EUGÈNE NIELEN

MARAIS, EUGÈNE NIELEN (1871– 1936) sal in Afrikaans* altyd bekend wees as die eerste digter wat aan die begin van die 20ste eeu ’n egte Afrikaanse gedig geskryf het. “Winternag” plaas die emosie van verlatenheid binne ’n natuurbeeld:

O koud is die windjie

  en skraal

En blink in die doflig

  en kaal,

so wyd as die Heer se genade

lê die velde in sterlig en skade.

Binne hierdie verlate en gestroopte beeld word die weemoed (die wysie) van die ooswind se maat (ritme) voorgestel as ’n metafoor vir liefdesverlatenheid. Uiteinde­lik is die gedig ’n gevoelige natuurbeeld en kan dit onder meer geïnterpreteer word as geestelike stroping en oorgawe aan verganklikheid. Hierdie gedig openbaar Ma­rais se sin vir die mistieke, sy bewussyn van God as die “eensame” Skepper, en sy eie in­he­rente eensaamheid. As die leser die biografiese gegewens van Marais se uiteindelike selfdood wil bylees, verskerp dit die beeld van die groot eensaamheid. Weinig Afrikaanse skrywers kon oor hierdie soort eensaamheid dig en skryf soos Marais. Sy ballade “Mabalêl” kan beskou word as miskien die grootste uiting van eensaam­heid en reddeloosheid in die Afrikaanse letterkunde. Dit is ’n primordiale gedig en in die primordiale setel die begin van skepping, literêr, artistiek maar ook geestelik. Wanneer Mabalêl afgetrek word in die dieptes van die primordiale, dra dit iets van Christus* se hellevaart. Marais het ook die Boesmanreligie en -mitologie verewig in sy Dwaalstories. Telkens het hierdie verhale gekulmineer in ’n gedig soos onder meer die mistieke “Die dans van die reën”. In 2012 is ’n rolprent oor ’n kort tydperk in Marais se lewe vygestel – Die Wonderwerker. Chris Barnard was die draaiboekskrywer en Katinka Heyns die regisseur van ’n film wat as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse rolprentbedryf beskou word.

Vir verdere lees: Eugène N Marais 1984. Versamelde Werke byeengebring deur Leon Rousseau. Kaapstad: Human & Rous­seau. Carel van der Merwe 2015. Donker stroom: Eugene Marais en die Anglo-Boereoorlog. Kaapstad: Tafelberg

Sidebar