MARAIS, JOHANNES HENOCH (JAN)

MARAIS, JOHANNES HENOCH (JAN) (1851– 1915) was ’n Hugenote-afstammeling en een van die min welgestelde Afrikaners* teen 1900. Hy het sy fortuin gemaak uit sy aandele in diamantmaatskappye en dit aangevul deur sy vernuf as Stellenbosse sakeman en boer op die familieplaas, Coetzenburg. Hy was betrokke by die gemeenskap, en het almal se respek as parlementslid verdien weens sy bevoegdheid en eerlikheid. Alhoewel Marais nie sy hoër­skoolopleiding voltooi het nie, het hy ruimhartig geskenk vir hoër onderwys deur beurse en lenings vir studente sowel as bouprojekte aan die Victoria-kollege (waaruit die Universiteit van Stellenbosch sou ontwikkel) te befonds. Sy passie vir die handhawing en bevordering van Afrikaans* was die groot motivering vir sy enorme skenking wat die stigting van die universiteit moontlik gemaak het. Uit sy boedel is nog geld bewillig aan onder meer die Stellenbosse teologiese kweekskool* en die skool vir dowes en blindes in Worcester, en is die aansienlike Het Jan Marais Nationale Fonds gestig, wat steeds talle verdienstelike projekte befonds. Sy vrou was die kleindogter van ds GWA van der Lingen* van die Paarl, en ds JH Neethling* van Stellenbosch was sy kleinneef. “Jan die Gewer” was ’n beskeie man, volgens sy begrafnisrede “de eenvoudige vriend van rijk en arm, van blank en gekleurd”.

Sidebar