MARAIS, PETRUS WILLEM (WIL­LIE)

MARAIS, PETRUS WILLEM (WIL­LIE) (1929–2012) is dikwels die Billy Graham* van Suid-Afrika genoem. Marais matriku­leer in Bloemfontein en studeer aan die Vrystaatse en Stellenbosse universiteite. Hy verwerf sy doktorsgraad aan die Uni­ver­siteit van Suid-Afrika in dogmatiek*. Sy be­die­ning in die NG Kerk* strek oor ’n wye terrein: 1954 Pretoria, 1955 Odendaalsrus, 1958 Brixton, 1960 Olifantshoek, 1962 Krugers­dorp, 1964 Bloemfontein, 1969 Pretoria-Oos, 1981 besturende direkteur van TWR (RSA) (later bekend as Radiokansel*), 1983 Predikant in sinodale diens vir ampsbediening en evangelisasie (Noord-Transvaal).

As evangelieprediker het die Here hom ge­bruik om ’n ontelbare aantal mense, ver­al in die Afrikaanse gemeenskap, na Chris­tus* te lei. Sy preekvoorbereidingsmetode, soos hy dit self verduidelik het: Eers stel hy met die Skrif in die hand steierwerk op vir die tema waaroor hy in ’n spesifieke situasie moet preek. Dan soek hy na konkrete beelde om sy boodskap te verduidelik – vir die oog en die oor. As hy preek, maak hy gebruik van vertelling, verduideliking, beskrywing en vergelyking. Hy ontwikkel sy boodskap met die vraag- en antwoordmetode (dialoog). Uiteindelik lei hy die hoorder tot die toe-eiening van die boodskap. As uitmuntende redenaar en iemand wat reekse Skrifdele uit sy geheue kon aanhaal, het hy sonder manuskrip gepreek. Kritiek teen sy predi­king* en teologie* was dat dit na funda­men­talisme* en biblisisme* geneig het.

Vir verdere lees: Willie Marais 2003. Die Bybel in die weegskaal: Kritiek teen die Bybel ontleed. Pretoria: Aktuapers.

 

Sidebar