MARDUK

MARDUK was die beskermgod van Babi­lon*, maar het aanvanklik ’n lae status gehad. Sy opgang in die hiërargie van die gode het waarskynlik in die 18de eeu vC tydens koning Hammurapi* se regering begin. Om tred te hou met Babilon se toename in politieke mag, word mettertyd al hoe meer vermoëns aan Marduk toegeken. Uiteindelik word hy tot die ko­ning van die gode verhef. Teen hierdie agtergrond ontvang hy die eienaam “Bel”, wat “Heer” be­teken. Dié naam herinner aan ba’al (Kanaänities*), ’adonai (Hebreeus*) en kurios (Grieks*). Hierdie ontwikkeling het moontlik gedurende die regering van Nebukad­nesar* I (1125–1104 vC) plaasgevind. Laasge­noem­de het onder an­dere die vervalle beeld van Marduk herstel. Die idee van Marduk as koning van die gode en veral die radikalisering van dié idee, staan sentraal in die Enuma Elisj-epos. Hierdie “pro­pa­ganda” het miskien ontstaan uit reaksie teen die bedreiging wat Assirië* vir Babi­lonië ingehou het.

Die hoofkwartier van Marduk se heiligdom (Esagila) was in die middel van Babi­lon geleë. Sy woonplek is volgens gebruik op die boonste platform van die trappetempeltoring (Etemenanki) in die tempelgebied ingerig. So ’n ziggurat kon ’n hoogte van tot sewe verdiepings bereik.

Marduk en sy seun, Nebo*, kom in die Ou Testament* ter sprake (Jes 46:1-2; Jer 50:2; 51:44). Hulle word egter as impotente gode voorgestel wat deur die Here* verslaan is. Marduk het vyftig name gehad. Die profeet Jesaja* bestry hierdie god met die een unieke naam, “die Heilige van Israel”.

Die godsnaam Marduk (Jer 50:2 – He­breeus: Merodak) word in kombinasie met ander benamings as eiename gebruik, b­v Merodak-Baladan (Jes 39:1); Ewil-Merodak (Jer 52:31; 2 Kon 25:27) en miskien Mordegai (Ester 2:5).

Op ’n afbeelding uitgelê met lapislazuli (9de eeu vC), word Marduk in die kleding van die tipiese Babiloniese heerser voorge­stel. Die altydteenwoordige gehoringde draak lê by sy voete.

Vir verdere lees: DN Freedman (hoofred) 1992. Anchor Bible Dictionary. New York: Doubleday. JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP. MC Tenney 1975. Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible. Grand Rapids: Zondervan. K van der Toorn et al (red) 1995. Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leiden: Brill.

Sidebar