MAREE, WILLEM LIEBRECHT (WIL­­LIE)

MAREE, WILLEM LIEBRECHT (WIL­­LIE) (1926–1989) verwerf BA en LLB aan die Universiteit van Preto­ria. Hy staan uit as leier en dien as voorsitter van Sonoptehuis en die verteenwoordigen­de studenteraad. Hy neem ook aktief deel aan die Christe­like Studente­ver­eniging*, die Afrikaanse Stu­den­te­bond en die studenteblaaie. Hy werk as joernalis en word die inligtingsbe­ampte van die NG Kerk* van Transvaal. Daar­mee begin hy ’n verbintenis van 34 jaar met die kerklike publikasies. Ná drie jaar as assistent-redakteur, word hy in 1970 redakteur van Die Voorligter*. Met sy joernalistieke kundigheid bou hy die blad uit tot die kerkblad met verreweg die grootste sirku­lasie­syfer in Suid-Afrika. As redakteur moes hy fyn trap om almal tevrede te hou, maar sy ewewigtige redaksionele kommentaar en beskeie persoonlikheid het groot vertroue en waardering uitgelok. Uit sy pen kom daar ook twee boeke oor die sen­dingge­skiedenis*: Lig in die Soutpans­berg en Uit duisternis geroep. Sy wetenskaplike nou­keurigheid en ewewigtige beoorde­ling van die geskiedenis in dié publikasies is hoog aangeslaan. Maree het op sy stil ma­nier sy stem duidelik in die kerk laat hoor. Hy is ’n paar maande ná sy aftrede oor­lede.

Sidebar