MARI

MARI is die Amoritiese* hoofstad in die noordelike deel van Mesopotamië*, later bekend as Assirië*. Die Amoriete was Semi­ties* van oorsprong en het vanaf 2000 vC uit die westelike woestyngebiede in die noor­de­like dele van die Vrugbare Halfmaan in­ge­trek. Die Amoriete het geleidelik die Akkadiese leierskap vervang en swaai die septer vir feitlik 30 jaar in Mesopotamië. Die stad Mari was in dié tyd een van die vooruitstrewendste stede in die Ou Nabye Ooste en het ’n kultuur gehad wat naverwant was aan dié van Sumerië* en Akka­dië*. Argeoloë het meer as 20 000 klei­tablette in die koninklike paleis gevind, wat onder andere korrespondensie tussen die Ba­bi­loniese* koning Hammurapi* en die ko­ning van Mari ingesluit het. Dit het ook verwysings na die Habiru* bevat. ’n Tempel (gebou volgens die Sumeriese patroon) met ’n standbeeld van Isjtar* is ook in Mari op­ge­grawe. Dit werp belangrike lig op die Amoriete se godsdienstige gebruike. Die Mari-tydperk is belangrik vir die aartsvader-verhale in die Bybel* en verskeie parallelle tussen die gebruike in Mari en dié van die aartsvaders* kan getrek word. Die stad Mari is in die 1700’s vC deur die Babiloniese ko­ning Hammurapi vernietig. Daarmee is die Amoritiese oorheersing van Mesopotamië finaal beëindig.

Sidebar