MARIOLOGIE

MARIOLOGIE is die teologiese besinning oor die rol van Maria*1 in God se heils­plan. Die Katolieke* en Ortodokse* kerke wil hulle Mariologie op die Bybel* en die leer van die kerkvaders* baseer. Die mens­wording* van die Woord* (Logos*) is die kernbegrip wat die rol van Maria bepaal. Om die leer oor die ware mensheid en tewens ook Goddelikheid van Jesus* te beklemtoon, het die konsilie van Efese in 431 nC verklaar dat Maria Theotokos of “God-baarder” is. Die titel van Maria, “Moeder van God”, kom uit hierdie verklaring. Die Logos is en was natuurlik altyd God, maar die Kind wat Maria gebaar het, is beide mens én God, en sy is die moeder van daardie Kind.

Van die vroegste beskrywings van die rol van Maria vind ons in die werke van die kerkvaders Justinus die Martelaar*, Irenae­us* en Tertullianus*. Wat Eva*1 deur haar samewerking met Adam* in ongehoorsaamheid veroorsaak het, is volgens hulle, en dit is steeds die Katolieke* siening, herstel deur wat Maria (die Tweede of Nuwe Eva) in samewerking en gehoorsaamheid met die Nuwe Adam gedoen het.

Onlangse studies in Katolieke Mariologie gee aandag aan die tipologie van die ko­ningsmoeder in die Dawidiese tydperk, die verhouding van die Heilige Gees* tot Maria, en Maria as model en moeder van die kerk.

In die Protestantse* teologie word Maria, die ma van Jesus, gesien as ’n buitengewoon begenadigde vrou, maar net ’n mens, deur wie Christus* sy menslike natuur ontvang het.

Sidebar