MARKUS, DIE EVANGELIE VOLGENS (BYBELBOEK)

MARKUS, DIE EVANGELIE VOLGENS (BYBELBOEK). Hoewel die Mar­kus-Evangelie die tweede boek in die Nuwe Testament* is, dink die meeste ondersoe­kers dat dit die éérste Evangelie* is wat geskryf is. Omdat Markus baie korter as Matteus/Mattheus* en Johannes* is, het die vroeë kerk min aandag aan Markus bestee. Augusti­nus* (400 nC) het gemeen dat Markus net Matteus opgesom het. Die insig dat Markus waarskynlik die oudste Evangelie is, het tot nuwe waardering vir dié boek gelei.

Volgens Papias (± 110 nC) is die skrywer van hierdie boek Markus*, wat opgetree het as Petrus* se tolk. In die lig van 1 Pet 5:13 en Hand 12:12 aanvaar baie dat die skrywer dalk Johannes Markus* kan wees.

Volgens kerklike tradisie ontstaan die Markus-boek in Rome* (nog ’n moontlikheid: Aleksandrië*). Dit lyk of die skry­wer ’n Christen* uit die heidendom was (en dus nie ’n Jood* nie). Joodse gebruike (7:3-4) en Aramese* woorde (5:41) word vir nie-Joodse lesers verduidelik en heelwat transli­te­ra­sie van Latynse terme kom in die Griek­se* teks voor (bv centurio 15:39 – 1983-Afrikaanse Vertaling: offisier; 2014-Direkte Vertaling: onvertaald met voetnootverduideliking: “’n Romeinse offisier wat bevel voer oor honderd Romeinse ampsdraers”). Alhoe­wel die Markus-Evangelie nie ’n brief* is nie, is dit waarskynlik redelik wyd gelees. Daar is elemente in Markus (14:51-52; 15:21) wat suggereer dat die lesers mekaar geken het. Dit kan wees dat die lesers ’n groep huiskerke in ’n bepaalde geografiese gebied was wat in noue kontak met mekaar was, maar ons weet nie presies waar nie.

Die ontstaanstyd van die Markus-Evange­lie hou verband met die Joods-Romeinse oorlog (66–70 nC) waarop bepaalde formulerings in Mark 13 kan sinspeel, en was volgens kerkvaders* redelik gou ná Petrus se dood (± 64-65 nC). Die situasie van geweld tussen Jode en heidene kom ooreen met die situasie net vóór of net ná die val van Jerusalem* in 70 nC. Daar was enersyds bedreiging deur die Romeine, maar andersyds ook vals profete* wat die gemeente* in die war gebring het.

Vóór die Markus-Evangelie was daar waar­skynlik geen volledige verhaal oor Jesus* beskikbaar nie. Die skrywer gebruik mondelinge tradisie en tradisiestukke om saam met sy eie aksente sy dramatiese verhaal oor Jesus saam te stel. Byna die helfte van die boek handel oor Jesus se lydenspad onderweg na die kruis*, en telkens word uitgewys dat die dissipels* net nie kan verstaan nie (10:35-45).

Markus-Evangelie veronderstel ’n kloof tussen ryk en arm, maar ook tussen mense wat rein* en onrein is in die lig van Israel* se heiligheidswette. Jesus het veral met mense omgegaan wat nie vir die Jode sosiaal aanvaarbaar was nie. Die lesers van Markus se boek moet leer om om te gaan met mense wat in hulle oë “onrein” is. Hierdie boek vertel van ’n kerk* wat oop is vir alle mense, waar dit nie meer saak maak watter kos ’n mens eet nie, en waar die geloof* van mense wat bedreig voel, versterk kan word.

Die onverwagte kort slot van die boek in Mark 16:8 (volgens die beste grondteks), lyk vreemd. Tog sê Jesus vroeër drie keer dat Hy uit die dood sal opstaan (8:31; 9:31; 10:34) en beloof Hy om as die Opgestane sy dissipels weer in Galilea te ontmoet (14:28). Die eerste lesers weet dit al, en moes self die boodskap van die opstanding verder uitdra.

Vir verdere lees: Coenie Burger en Ian Nell (red) 2002. Draers van die waarheid: Nuwe-Testamenties visies vir die gemeente. Stellenbosch: BUVTON.

Sidebar