MARSION

MARSION (oorlede circa 154) was die invloedrykste en suksesvolste “ketter”* van die 2de eeu nC. Sy “kettery” lê daarin dat hy niks met die Ou Testament* te doen wou gehad het nie.

Marsion was ’n skeepsmagnaat uit Klein-Asië wat in 140 nC na Rome gekom het. Hy het hom daar by die gemeente* aangesluit, maar is binne die volgende vier jaar (circa 144) geëkskommunikeer (Kyk by: Ekskommunikasie) oor sy leer dat die wet* van die Jode* niks met die evangelie* van Jesus* Christus* te doen het nie.

Volgens Marsion het Jesus op 15-jarige ouderdom op aarde verskyn en die ware God kom verkondig, wat niemand nog ge­ken het nie. Marsion was bekend, en ver­oordeel, omdat hy ’n onderskeid getref het tussen die wraaksugtige Skeppergod van die Ou Testament wat die materiële wêreld en dus ook die Bose geskep het, en die ware God, die Vader van Jesus Christus, wat die ganse mensdom in liefde en in genade regeer.

Marsion wou nie die Evangelies aanvaar nie, en het die skrywersvan die Evangelies “Judaïste” genoem. Paulus* het, volgens Marsion, die evangelie korrek verkondig. Marsion was die eerste persoon wat ’n kanon* saamgestel het. Dit het bestaan uit dele van die Evangelie van Lukas* (onder andere sonder die verhaal van Jesus se geboorte), en tien briewe van Paulus (die pastorale briewe* en die brief aan die Hebreërs* is uitgesluit omdat hulle volgens Marsion nie deur Paulus geskryf is nie).

Marsion se geskrifte is alles vernietig. Ons beskik slegs oor dele van sy Antiteses wat uitgebreid deur Tertullianus* aangehaal word in sy werk Teen Marsion.

 

Sidebar