MARTELAARS

MARTELAARS. Christen-martelaarskap het in die 20ste en vroeë 21ste eeu baie toegeneem. Sedert die begin van die Christendom* was daar Christene* wat vir hulle geloof* gesterf het. In die Romeinse tydperk (Kyk by: Romeinse Ryk) was daar drastiese vervolging tot by die bekering van keiser Konstantyn*. Sedert die tyd van die Hervor­ming* ná Johannes Hus*, Martin Luther* en Johannes Calvyn* was daar geweldige ver­vol­ging van Protestante* deur die Kato­lieke*. Marxiste/Kommuniste (Kyk by: Marxisme en: Kommunisme) en ook Islam* het in die 20ste eeu Christene vervolg. In China* word bereken dat 20 miljoen Chinese in die sg Kulturele Rewolusie gesterf het. Daar word ook bereken dat 20 mil­joen mense tussen 1920 en 1990 in die gulags van Rusland dood is. ’n Verdere 16 miljoen het na raming in hulle pogings om te ontvlug, gesterf. Baie van hulle was Christene. In dié tyd het nagenoeg 200 000 Chris­tenleiers as martelaars gesterf en ’n verdere 500 000 is in gevangenskap aangehou.

Geopende Deure* hou ’n indeks van die wêreld se nasies en die stand van die Christelike geloof  (www.gospelcom.net/od/). Daarvolgens is daar 74 lande waar mense van geloof, veral Christene, vervolg word. Na berekening leef 400 miljoen Christene in hierdie lande. Van die lande is Saudi-Arabië, Afghanistan, Laos, China, Turkme­nistan, Iran en Noord-Korea (Kyk ook by: Sending en vervolging). Die shari’a-wetstoepassing in Afghanistan en Saudi-Arabië beteken dat ’n inwoner ter dood veroordeel kan word wanneer hy of sy ’n Christen word. Marxistiese state maak die lewe vir Christene baie moeilik, veral in Noord-Korea waar Christene wat hulle geloof bely, tot gevangenskap asook ter dood veroordeel word. In China, Viëtnam en Laos ly “ongeregistreerde” Christene swaar. Ook onder Hindoe*-ekstremiste in Indië en Nepal het Christene in die verlede gely. Boeddhiste* het Christene ook in Bhutan en Sri Lanka mishandel. Selfs in Westerse lande soos Frankryk, Oostenryk en België was daar pogings om wetgewing teen sg (Christelike) “sektes” deur te voer.

Afrika het ook sy kwota martelaars opgelewer. Die vervolging van Christene in Soedan was die afgelope 50 jaar baie fel: die bombardering van kerke op Sondae en die verwoesting van hospitale, skole en kerke asook die massaslagting van Christendorpe. Die kerk in Somalië is ver­plig om ondergronds te gaan. Baie Chris­tene moes na Kenia, Etiopië en selfs Jemen vlug. Somalië, ’n land met sy eie tragedies, staan ook hoog op Geopende Deure se vervolgingsindeks.

In Ruanda het die massaslagting tussen die Hutus en die Tutsis nagenoeg ’n miljoen mense laat sterf. Duisende Christenleiers is ook in dié tyd vermoor.

In Uganda is Christene onder Idi Amin erg vervolg. Die situasie het drasties verander onder die Museveni-regering.

Morokko, waar die Arabiese leërs in die 7de eeu die Berberkerk totaal uitgewis het, is onder die eerste tien op die vervolgingsindeks. In Alge­rië staan Arabiese Christene voor dreigemente en intimidasie deur familie, vriende en Moesliem-ekstremiste. Vrees lei tot onttrekking uit Christenselgroepe, kompromieë en terugval na Islam. Die eerste pre­sident van Angola, ’n Marxis, het hom dit ten doel gestel om die Christendom uit te roei. Die gevolg was talle insidente van on­derdrukking en vervolging van Christene in die land. In die 1990’s het die situasie dramaties verander sodat feitlik alle diskriminasie teenoor Christene beëindig is.

Voorvalle waar Christene geteiken en vermoor is, het in die tweede dekade van die 21ste eeu meermale in Afrika voorgekom. So is 147 Christene in April 2015 op die kampus van die Garissa-universiteit in Kenia deur die Islamitiese ekstremistegroep Al-Sjabaab doodgemaak terwyl hulle ’n gebedsbyeenkoms in die universiteit se saal gehou het. Die aanvallers het na berig word gevra watter studente Christene en watter Moesliems is, en die Christene toe afgemaai. Drie meisies wat knielend om genade gesmeek en gebid het terwyl hulle deur gewapende mans aangehou is, is op die plek doodgeskiet toe hulle gesê het: “Jesus, red ons” (Die Burger, 4 April 2015). Later dieselfde maand het ’n ander  Islamitiese terroristegroep, IS (“Islamitiese Staat”), 21 Etiopiese Christene aan die Libiese kus tereg gestel. Op ’n video wat IS oor dié gruweldaad uitgereik het, word Christene uitgebeeld as kruisvaarders wat daarop uit is om Moesliems dood te maak. “Die Moesliem-bloed wat vergiet word onder julle gelowe is nie goedkoop nie,” sê ’n vegter op die video in Engels met ’n Amerikaanse aksent. “Aan die nasie van die kruis: Ons is terug. Julle sal nie eens in julle drome veilig wees nie totdat julle Islam aanvaar. Ons stryd is ’n stryd tussen geloof en godslastering, tussen die waarheid en leuens” (Die Burger, 20 April 2015).

Daar kom ook gevalle voor, veral in Afrika, waar Christene met weerwraak op vervolging reageer. (Kyk ook: Sending en vervolging en: Islam.)

Vir verdere lees: Luis Bush en Beverley Peques 1999. The Move of the Holy Spirit in the 10/40 Window. Patrick Johnstone en Jason Mandryk 2001 (6de uitgawe). Operation World. Authentic Lifestyle. Jason Mandryk 2010 (7de uitgawe; volledig hersien). Operation World. Colorado Springs: Biblica Publishing. Peter Hammond 1998. Faith under Fire in Sudan.                                      

Sidebar