MARTINUS VAN TOURS

MARTINUS VAN TOURS (316–397), die biskop van Tours, was die kind van heidense ouers in Pannonië, Hongarye. Hy was aanvanklik ’n soldaat. Nadat Marti (soos hy genoem is) die helfte van sy mantel aan ’n bedelaar by Amiens gegee het, het Chris­tus* in ’n naggesig aan hom verskyn. Dit het hom aangespoor om hom te laat doop* en ’n monnikelewe te voer. Hy het op 22-jarige ouderdom monnik* geword. In samewerking met Hilarius van Poitiers* het hy die eerste klooster* in Gallië (vandag ongeveer Frankryk) by Ligugé gestig. In 372 is hy verkies tot biskop* van Tours. In hier­die hoedanigheid het hy hom beywer vir die verbreiding van die Christelike geloof*, veral in die platteland. Keiser Maksimus het in 386 Priscilliane laat doodmaak, en Martinus het die keiser as gevolg daarvan uit die kerk geëkskommunikeer (Kyk by: Ekskommunikasie). Martinus se sterfdatum is 11 November 397 – ’n dag wat in baie dele van Nederland as “Sinter-Maarten” ge­vier word. Dit is een van talle bewyse van die groot verering wat Martinus van Tours deur die loop van die eeue geniet het. Daarvan getuig ook baie kerke wat aan hom gewy is.

Vir verdere lees: WC van Unnik 1959. “Martinus I” in: FW Grosheide en GP Itter­zon. Christelijke Encyclopedie. Kam­pen: Kok.

Sidebar