MARTYN, HENRY

MARTYN, HENRY (1781–1812). Ná sy bekering in 1800 kom hierdie belowende wiskundige onder die invloed van Charles Simeon, wat vir 53 jaar predikant in Cam­bridge was. In 1803 skok hy die akade­miese gemeenskap met sy besluit om sendeling* te word. Simeon, ’n evangeliese Anglikaan* in die tradisie van George Whitefield*, moe­dig hom aan om hom voor te berei vir kontak met Hindoe*- en Moesliem*-geleerdes. Buitengewoon begaafd in klassieke en mo­derne tale, begin hy met ’n studie van Ara­bies, Persies en Urdu (Hindoestani). In 1805 vertrek hy as “kapelaan” na Indië. Op 8 Januarie 1806 is hy teenwoordig by die slag van Blaauwberg, waar hy gewondes aan albei kante versorg. Hy klim Tafelberg uit en ontmoet ook dr JT van der Kemp*, wat hom ’n Aramese Nuwe Testament* gee.

Te midde van swak gesondheid en lang gesprekke met Indiese geleerdes, vorder hy goed met taalstudie. Die ander kapelane lewer snedige kritiek op sy beklemtoning van die mens se verdorwenheid, regverdigmaking* deur die verdienste van Christus* alleen, en dat bekering* ’n gawe van God is. Daarenteen vind hy goeie aanklank by William Carey* en sy kollegas te Seram­pore.

In Maart 1811, ná voltooiing van die Nuwe Testament in Urdu, vertrek hy na Iran. In Shiraz hersien hy, met behulp van plaaslike geleerdes, sy Arabiese en Persiese vertalings van die Nuwe Testament en, teen die middel van 1812, is beide voltooi.

Vir verdere lees: David Bentley-Taylor 1975. My love must wait. The story of Henry Martyn. Downers Grove: IVP.

Sidebar