MARXISME (NEO-MARXISME) EN DIALEKTIESE MATERIALISME

MARXISME (NEO-MARXISME) EN DIALEKTIESE MATERIALISME. Aan die begin van die 18de eeu het die ontdek­king van elektromagnetisme die idee van “positief – negatief – vonk” daargestel. In die denke van Hegel* is dit tot uitdrukking gebring in die skema van “tese – antitese – sintese”. Volgens Karl Marx* word die ge­skiedenis ten diepste bepaal deur ekono­miese produksie-verhoudings wat dialekties, dit wil sê oor die uiterste van teenstel­lings heen, ontwikkel. In die Middeleeue was die landheer die tese en die lyfeie die antitese, en uit hierdie teenstelling (spanning) het die sintese (versoening), naamlik die bourgeoisie (burgerstand) na vore ge­tree, wat egter op sy beurt as nuwe tese sy eie antitese opgeroep het, naamlik die proletariaat (klas sonder besittings; “derde stand”). Die geskiedenis, so loop hierdie redenasie, sal ten slotte sy voleinding vind in die kommunistiese* werkersparadys wat ná die revolusie ’n klaslose wêreldsamele­wing van arbeiders sal daarstel. (Kommunis: Latyn: com saam + unus een.) Dit is daarom begryplik dat Marx die histories-ekono­miese produksiewyse in ’n samelewing (as onderbou) eensydig bepalend sou ag vir dit wat hy sou sien as die ideologiese bobou van kuns, moraal, politiek, godsdiens. Hier­die siening van die onder- en bobou in die samelewing, is egter onjuis, want dit kan nie verklaar hoe dit moontlik is dat by wesenlik gelyke produksie-verhoudings groot verskille in staatsvorm, godsdienstige oortuigings, morele standaarde en regs­prak­tyke aangetref word nie. Ekonomiese produksie-verhoudings kan eenvoudig nie eensydig-bepalend wees vir die nie-ekono­miese sektore van die menslike samelewing nie.

Die vermeende bevryding van die mens kan beswaarlik sy fundering in ’n onverbiddelike natuurwet van dialekties-materia­listiese voortgang vind. Die enigste trooswoord wat Marx tot die menslike vryheid kan rig, is die fopspeen dat die mens die “vryheid” sou besit om die natuurwetmatig-gedetermineerde voortgang van die geskie­de­nis te vertraag of te kan versnel. In reaksie teen die tegnies-wetenskaplike ontwikkeling wat arbeid reduseer tot sui­wer produktiewe arbeid en wat dreig om uit te loop op ’n omvattende tegnokratiese diktatuur, propageer die neo-Marxiste ’n hou­­ding teenoor die toekoms wat gekant is teen elke poging om die bestaande magte te versterk. Die voorbeeld van die totalitêre Mar­xi­s­tiese lande het bewys dat die revolusie nie altyd vryheid bring nie en daarom staan die neo-Marxiste eintlik ’n voortgesette revolusie voor wat sal verhoed dat nuwe magsgroepe in die samelewing op­nuut die pas na vryheid sal afsny.

 

Sidebar