MARY STUART (MARY, QUEEN OF SCOTS)

MARY STUART (MARY, QUEEN OF SCOTS) (1542–1587) was die enigste kind van koning James V van Skotland en sy Franse vrou, Mary van Guise. Haar pa sterf toe sy ses dae oud was en sy word onmiddellik koningin onder regentskap van haar ma. Sy word in die hof van die Franse ko­ning, Hendrik II, opgevoed. Hier trou sy met Hendrik se oudste seun, Francis. Ná sy vroegtydige dood, keer sy op 18-jarige ou­der­dom terug na Skotland waar die kerkhervor­ming* onder leiding van John Knox* intus­sen plaasgevind het.

Mary was ’n toegewyde Katoliek* en het onmiddellik met die Protestante* gebots. Sy antagoniseer haar onderdane verder deur slegs drie maande ná die dood van haar tweede man, Henry Stuart, graaf van Damley, met sy waarskynlike moordenaar, James Hepburn, graaf van Bothwell, te trou. Ná ’n opstand in 1568 abdikeer sy ten gunste van haar 13-maande oue seun, James.

Sy soek skuiling in Engeland, maar word deur Elizabeth I vir 18 jaar gevange gehou. Die Katolieke het Mary ook as die regmatige troonopvolger van Engeland beskou en wou Elizabeth laat afsit. Mary word deel van verskeie sameswerings om Elizabeth om die lewe te bring. Ná die Babington-komplot word Mary verhoor en ter dood veroordeel.

Vir verdere lees:  JEA Dawson 2002. The Politics of Religion in the Age of Mary, Queen of Scots. Cambridge: University Press.

Sidebar