MASANGO, MAAKE JONATHAN

MASANGO, MAAKE JONATHAN (1947–) is die eerste swart teoloog wat professor word aan die Universiteit van Preto­ria se fakulteit teologie* waar hy praktiese teologie doseer. Hy was moderator* van die Presbiteriaanse Kerk* in Suider-Afrika (1976-1977) en vise-president van die Suid-Afri­kaanse Raad van Kerke (1997-1999). Masan­go is aktief in die ekumene* en het in die uitvoerende komitees van die All Africa  Conference of Churches, die Wêreldraad van Kerke* en die Wêreldbond van Gerefor­meerde Kerke (ná hersamestelling genoem die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke*) gedien. Sy akademiese werk is veral toegespits op die menswaardigheid van mag­te­lo­ses, veral vroue en kinders wat wêreldwyd deur strukture verhinder word om  vry te wees. Daarom, sê hy, speel  be­vry­dingsteologie* ’n belangrike rol in sy lewe. Masango word beskou as ’n warm mens wat versoening in alle situasies be­vorder, maar hy skram nie daarvan weg om reguit te praat nie. Hy is ’n gewilde spreker en dosent, en het onder meer in Jamaika, die VSA, Korea en Zambië opgetree. Hy het MA-grade in die teologie en opvoedkunde, asook ’n PhD in teologie en psigologie. Hy was sedert 1977  leraar van verskeie ge­meentes in Suid-Afrika en die VSA.

 

Sidebar