MASEDONIË

MASEDONIË. Ná die opstand deur An­dris­kus in Masedonië het Rome (Kyk by: Romeinse Ryk) in 148 vC die gebied oorgeneem en die provinsie Masedonië geskep. Griekeland* het in die eerste eeu vC uit twee provinsies bestaan: Masedonië in die noorde en Agaje* in die suide. Masedonië het bestaan uit die vlaktes van die golf van Tessalonika af tot by die groot riviervalleie in die Balkangebergte. Dit was bekend vir hout en edelmetale.

Masedonië en Agaje was Paulus* se be­dieningsterrein (Hand 19:21), en is gedeeltelik deur die kerk* in Tessalonika* met die evangelie* bereik (1 Tess 1:7-8). ’n Gesig* van ’n man uit Masedonië (Hand 16:9) moti­veer Paulus se sendingreise (50–55 nC) deur Masedonië. Deur hierdie reise het Paulus, Silas*, Lukas* en Timoteus* die kerk se geskiedenis radikaal beïnvloed, want die evangelie word in Filippi*, Tessalonika en Berea verkondig. Ten spyte van aanvanklike teenstand teen Paulus en Barnabas* (Hand 13:50), was Paulus baie lief vir die Chris­tene* in Masedonië (1 Tess 1:3; Fil 4:1) en wou hy altyd daarheen terugkeer (2 Kor 1:16). Die Christene in Masedonië was baie vrygewig teenoor gelowiges* in Judea* en Paulus (Rom 15:26; 2 Kor 8:1-5; 11:9). Die briewe* aan die Filippense* en die Tessalo­nisense* is aan die kerke in Masedo­nië ge­rig.

Sidebar