MASSADA

MASSADA (die Romaanse vorm van die Hebreeuse metzada wat “vesting” beteken) is ’n hoë berg met rotsplato en diep klowe aan die westekant van die Dooie See in die Judese woestyn ongeveer 25 km van En-Gedi. Koning Herodes *1 het gedurende 37 en 31 vC vir hom hier ’n fort gebou as ’n weg­­kruipplek sou daar dalk ’n opstand van die kant van die Jode* of ’n aanval van Kleopatra* uit Egipte* kom. Die kranse aan die oostekant is 451 m hoog en aan die westekant 100 m. Die plato in die vorm van ’n skuit is 600 m lank en 300 m breed van oos na wes en beslaan 8 hektaar. Drie smal, kronkelende paadjies, waarvan een op die westelike hang se naam Slangpad is, verleen toegang tot die vesting. Rondom die plato is ’n muur gebou wat 4 m breed en 1 400 m lank is. Daar is ’n hele aantal uitkyktorings.

Die vesting het bekendheid verwerf toe 960 Selote* (mans, vroue en kinders) daar­heen gevlug het toe die Romeine die tempel*4 in 70 nC verwoes het. Die Romeine het verskeie legioene daarheen gestuur, maar die Jode het verkies om eerder selfmoord te pleeg as om in die hande van die vyand te val. Die Selote het die vesting in 66 nC beset toe Menagem, ’n rebelleleier, die hele garnisoen wat daar geplaas is, uitgemoor het. (Kyk ook: Bar Kogba-opstande.)

 

Sidebar