MATE, GEWIGTE, GELD

MATE, GEWIGTE, GELD. Die mate, gewigte en geldeenhede waarna in die Ou* en Nuwe* Testament verwys word, kan nie met sekerheid geïdentifiseer word nie. Die saak word gekompliseer deurdat daar in die tyd van die Ou Testament nie internasionale standaarde en gewigte was nie, en daar naas die gewone eenhede ook nog standaard-gewigte vir die heiligdom en staat was, en mate en gewigte oor ’n tydperk van tien eeue baie verander het.

Die verandering in die waarde (dit wil sê die gewig) van geld word in die tabel hieronder goed geïllustreer wanneer die gewig van ’n “mine” in die tyd van die Ou en Nuwe Testament bv vergelyk word. Daarby het die waarde van Griekse* en Romeinse* munte in die tyd van die Nuwe Testament verskil, en kan bereke­nings daarom slegs gemaak word op grond van wat mense destyds daarmee kon koop. Die syfers hieronder is by benadering bere­ken en daarna afgerond.

Die vernaamste mate-eenhede kan in lengte-, oppervlak- en inhoudsmate inge­deel word. Vir antieke lengtemate is mees­tal liggaamsdele gebruik. Dit sluit die volgende in: el, span, handbreedte en vinger. Oppervlakmate ken die Bybel* eintlik nie. Oppervlakte is deur die werk van ’n span osse of die hoeveelheid saad wat gesaai is (1 Kon 18:32), bepaal. Daar het inhoudmate vir vaste stowwe en vloeistowwe bestaan.

’n Berekende uiteensetting van waardes lyk naastenby soos volg.

 

(TABELLE SOOS OP BL 712, 713, BO-AAN 714 VAN GEDRUKTE CKE)

GEWIGTE: Geld was nie oorspronklik as muntstukke in Israel*-Pale­stina* bekend nie. Betaalmiddele in die Steen­tyd was deur middel van ruil- en handelstransaksies met na­tuur­produkte soos edel­stene, dieretande, halfmetale en vee gedoen. Die intensivering van handel in die Bronstydperk het die geldmark begunstig. Roumetale is toenemend gebruik. Waardes van produkte is deur ooreenkoms bepaal, aangesien daar geen internasionale standaardisering bestaan het nie (Gen 23:16; Jer 32:9).

Die vroegste vorm van geld was waar­skynlik klompe metaal. Uit metale (goud en silwer) het ringe, skywe en ander vorms ontwikkel. Eers in die Persiese* tyd (6de eeu vC) het geykte munte, wat deur die staat gewaarborg is, ontwikkel.

Vanaf die Ystertydperk (1100 vC) het veral silwer in Palestina ’n rol as geld gespeel. Geld en silwer is soms moeilik onderskei­baar. Later het goud en ander metale byge­kom. Waardes is op grond van die roume­taal­stukke bereken. Die sikkel word later as gewigmaat (11,4 gram) die standaardgeld­eenheid.

In die Nuwe-Testamentiese tyd was daar Joodse*, Griekse en Romeinse* munte, waarvan die waardes verskil het. Geldwisselaars by die tempel* en feeste was volop.

In Israel is geld gebruik in omgang met vreemdes (Gen 37:28); arbeiders is betaal (2 Kon 12:12 en volgende verse). Vir bouprojekte en belastingtribute (2 Kon 12) was geld noodsaaklik. Belasting aan die konings­hof is met geld (2 Kon 15:20) en natuurprodukte (1 Sam 8:15) betaal. Internasionale transaksies is tussen Salomo* en Hiram beklink (1 Kon 5:24).

Ten spyte van die positiewe waardering (Spr 2:4; Job 22:25; Matt 22:19) vir geld, hou dit sekere gevare in. Dis nie die kosbaarste besitting nie (Job 28:15); daarin lê nie die lewensin nie (Pred 2:8); dit kan jou van God vervreem (Deut 8:13); jou hoogmoe­dig maak (Eseg 28:4); tot gierigheid lei (Amos 2:6). Vir die apostels* het geld geen waarde gehad nie (Matt 10:9). Winsbejag en die vergoddeliking van geld is skerp ver­oordeel (Matt 6:24). Gelowiges* moet nie vergeet dat God die gewer daarvan is nie (Eseg 16:13).

 

(TABELLE SOOS ONDERAAN BL 714, BL 715 EN BO-AAN BL 716 VAN GEDRUKTE CKE)

 

 

Sidebar