MATERIALISME

MATERIALISME dui in die filosofie op die oortuiging dat materie die basiese bestanddeel van die kosmos is en dat alles hieruit voortkom.

In die algemene gebruikstaal – waaroor dit verder hier gaan – dui dit op die lewensbeskouing waarvolgens jou welsyn van materiële besittings afhang.

Alle rykes is nie materialisties nie, terwyl sommige armes materialisties is omdat hulle meen dat hulle redding in besittings lê. In ons markgerigte ekonomie word ons deur die advertensiebedryf gemanipuleer (Kyk by: Reklame) om steeds méér te koop omdat dit ons “aanvaarbaarder” en “geluk­ki­ger” sou maak. Ons ervaar daagliks dat mense met baie besittings groter respek geniet en meer selfvertroue uitstraal as ander. Intussen vergroot die kloof tussen arm en ryk (persone, lande, kontinente) en word die natuurbronne ernstig bedreig. Soos die Ou-Testamentiese profete*, waar­sku Jesus* teen hierdie gevaar (Matt 6:24).

Johan Heyns* se beeld van geld en besittings wat ’n “Godsverduistering” veroorsaak, gee in hierdie verband groter duidelikheid. Soos die klein maan met ’n sonsverduistering voor die groot son inskuif, kan ’n mens se besittings voor God inskuif. Die regte plek van besittings in ’n mens se lewe, is dat ons dit moet gebruik om God se lig en liefde in mense se lewe te laat inkaats – soos die maan snags die son se lig reflekteer.

Vir verdere lees: David Bosch 1990. Goeie nuus vir armes … en rykes. Pretoria: Unisa.

 

Sidebar