MATTEUS/MATTHEUS, DIE EVANGELIE VOLGENS (BYBELBOEK)

MATTEUS/MATTHEUS, DIE EVANGELIE VOLGENS (BYBELBOEK). In die Vroeë Kerk* was die Matteus-Evangelie lank die mees geliefde Evangelie*. (“Mattheus” is die spelwyse van die Nuwe Testament en Psalms: ’n Direkte Vertaling [2014]. Die 1983-Afrikaanse Vertaling, waaraan hier voorkeur gegee word, is “Matteus”.) Die Matteus-Evangelie gee ’n omvattende weergawe van Jesus* se lewe en sterwe. Ti­pies van hierdie boek is die sterk Ou-Tes­tamentiese* agtergrond, soos blyk uit die twaalf Ou-Testamentiese aanhalings wat ingelei word met “sodat vervul sou word” (1:22-23, 2:6, 15, 17-18, 4:14-16 ens). Bekendheid met die Joodse* en selfs rabbynse (Kyk by: Rabbi) standpunte kom ook dikwels na vore. Net so duidelik is dit dat die Matteus-Evangelie vir al die nasies bestem is (2:1-12; 28:18-20). Direk ná die eerste aanhaling uit Jes 7:14 vertaal die skrywer “Immanuel*” as “God by ons” (1:23). Hierdie aksent omraam die hele Matteus-boek aangesien ons in 28:20 weer lees: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Papias skryf in ± 110 nC dat die apostel* en voormalige tollenaar*, Matteus*, die éérste Evangelie in Hebreeus* (lees: Ara­mees*) geskryf het. Tog aanvaar die meeste navorsers dat die skrywer (soos Lukas*) ge­bruik maak van mondelinge oorlewering en geskrewe Griekse* bronne (die Markus*-Evangelie, wat nou aanvaar word as die oudste, en ’n bron Q met dele wat nié in Markus nie, maar wel in Matteus en Lukas voorkom). “Levi” in Mark 2:14 (vgl Luk 5:27) word in Matt 9:9 “Matteus”, en net in Matt 10:3 (anders as in Mark 3:18 en Luk 6:15) word Matteus “tollenaar” genoem. Aanvanklik was al vier Evangelies naamloos. Tog is daar waarskynlik goeie grond om die tradisie te aanvaar dat ’n belangrike deel van die Matteus-Evangelie van die apostel* Matteus afkomstig is. Die Matteus-Evangelie het waarskynlik in Sirië ontstaan, maar Antiogië* is ook ’n moontlikheid. Dit word daar reeds in ± 100 nC deur biskop* Ig­n­a­tius* en ook deur die Didache (’n Chris­telike geskrif uit Sirië) gebruik. Die eerste lesers was waarskynlik Grieks*sprekende Joodse Christene*, steeds in noue kontak met Jode, maar ook met nie-Jode. Omdat Matteus van die Markus-Evangelie gebruik maak, moes dit ná Markus en ná die val van Jerusalem* in 70 nC ontstaan het, waar­skynlik teen 80-90 nC.

Jesus se onderrig word in hierdie boek in vyf groot toesprake (Matt 5–7, 10, 13, 18, 23–25) gegroepeer. Die vyf toesprake laat ’n mens aan die eerste vyf boeke van die Ou Testament dink, en versterk die band met die Ou Testament (vgl 5:17). Deur­gaans word klem gelê op die doen van God se wil en die geregtigheid* (5:20, 48; 6:33).

In die vier Evangelies kom die term “kerk” (ekklesia) net in Matteus voor (16:18; 18:17). Die kerk* is Jesus se dissipels*, me­kaar se broers en susters (18:15-35). Hulle lewe moet deur diens* (20:26-28; 10:24-25; 23:11-12) gekenmerk word. Tog word hulle “kleingelowiges” (6:30; 8:26; 14:31; 16:8; vgl ook 17:20) genoem, terwyl die heidense offisier (8:10) en die Kanaänitiese vrou (15:28) mense met “groot geloof*” is. Dissi­pels is mense met kleingeloof, wat twy­fel, maar tog volledig van Hom afhanklik is (14:31 en 16:18).

Die boek Matteus het ’n duidelike pastorale bedoeling. Die lesers kan hulle identifiseer met dissipels wat sondaars is (9:13) en wat tot aan die einde twyfel (28:17). Juis hulle word gevra om ’n groter getrouheid aan die wet* te hê as die skrifgeleerdes* en die Fariseërs* (5:20), om volmaak (5:48) en om sout en lig vir die wêreld (5:13-14) te wees.

Vir verdere lees: AC Myers 1987. The Eerdmans Bible Dictionary. Grand Rapids: Eerdmans.

Sidebar