MATTEUS/MATTHEUS (PERSOON)

MATTEUS/MATTHEUS (PERSOON). Die naam beteken “geskenk van God”. (Terwyl die 1983-Afrikaanse Bybelvertaling “Matteus” skryf, waaraan hier voorkeur gegee word, gebruik Die Nuwe Testament en Psalms [2014] weer die ouer spelwyse, “Mattheus”). Matteus is een van die twaalf apostels*. In Mark 5:18 en Luk 6:15 is hy sewende en in Matt 10:3 en Hand 1:13 agtste op die lys. Hy word met Levi*2 vereenselwig omdat die tollenaar wat in Matt 9:9 geroep is, “Matteus” genoem word, en “Levi” in Mark 2:14 en Luk 5:27, 29. Levi se pa was Alfeus* (Mark 2:14), maar dit is onwaarskynlik dat Levi/Matteus en Jako­bus, Alfeus se seun (Matt 10:3), broers was. Daar is net twee verwysings na Matteus buite die apostellyste. Die een verwys na sy roeping by die tolhuis (Matt 9:9; Luk 5:27), die enigste verwysing na die roeping van ’n indiwidu in die Sinoptiese Evangelies*. As tollenaar was hy ’n gehate persoon, waar­skynlik in diens van Herodes*4 Antipas, die koning wat namens Rome oor Galilea* regeer het. Die tweede verwysing is wanneer Levi ná sy roeping vir Jesus* ’n feesmaal in sy huis aanbied en tollenaars en sondaars daarheen nooi (Luk 5:29). In die Vroeë Kerk* was daar ’n tradisie dat Matteus die skrywer van die Matteus-Evangelie* is. Volgens oorlewering het hy hom later in Etiopië, Masedonië*, Sirië*, Persië*, Partië en Medië bevind, maar ons weet nie wat hiervan waar is nie.

 

Sidebar