MATTHEWS, ZACHARIAH KEODI­RE­LANG

MATTHEWS, ZACHARIAH KEODI­RE­LANG (1901–1968) is in Kimberley gebore. Hy is ná sy skoolopleding eers Lovedale* toe en daarna na Fort Hare, en word in 1923 die eerste swartman wat ’n BA-graad by ’n Suid-Afrikaanse inrigting verwerf. In 1923 het hy die eerste swart hoof van Adams’ College in Natal geword. Deur privaatstudie het hy sy LLB verwerf en is in 1930 toegelaat tot die sybalie en die Trans­vaalse afdeling van die Hooggeregshof. Daar­na sit hy sy studie in die buiteland in Yale en Londen voort. By sy terugkeer word hy by Fort Hare aangestel, waar hy uiteindelik professor in Afrika-studie geword het. In 1935 het hy saam met Jabavu* die All African Convention gestig. Die wetgewing wat eerste minister Hertzog* rakende swart­mense ingedien het, het hom in die politiek ingetrek. As gematigde het hy hom ’n benoeming tot Hertzog se aparte swart adviserende rade laat welgeval, alhoewel hy uit eie geledere teenstand ondervind het. Hy het die gaping tussen die ouer garde en die meer militante jonger lede van die African National Congress (ANC) oorbrug. In 1949 word hy provinsiale president van die Kaapse ANC. Matthews was later ’n politieke gevangene op aanklag van hoogverraad. In 1961 word hy die sekretaris van die Afrika-afdeling van die Wêreldraad van Kerke* in Genève en in 1966 Bo­t­swana se ambassadeur in die Verenigde State van Amerika, waar hy ook oorlede is. Hy is die oupa van Naledi Pandor, lid van verskeie Suid-Afrikaanse kabinette.

Sidebar