MAXEKE, CHARLOTTE MANYE

MAXEKE, CHARLOTTE MANYE (1874–1939) is naby Fort Beaufort gebore en het haar vroeë opleiding by ’n sending*skool in Uitenhage ontvang. Sy was besonder goed in tale (ook Engels en Nederlands) en musiek. Daarna is sy Kimberley toe waar sy skoolgehou en solokonserte in die stadsaal aangebied het. Sy is in 1896 saam met ’n swart koor op ’n Europese toer en het oral staande applous ontvang. Die koor het ook tydens koningin Victoria se jubileumvie­ring in die Royal Albert-saal gesing. Euro­peërs het fondse voorsien dat die koor ook na Kanada en die VSA kon gaan. Daar het ’n lid van die koorgeselskap spoorloos met al die reiskaartjies en geld verdwyn. Biskop DA Payne van die African Methodist Episco­­pal Church (AME)* in Ohio het hom oor Maxeke ontferm en haar ’n beurs gegee om by dié kerk se Wilberforce-universiteit te stu­deer. In 1903 het sy die eerste Suid-Afri­kaanse swartvrou geword om haar doktorsgraad te verwerf. Sy is ook in die VSA met dr Marshall Maxeke, ’n Xhosa van Middel­drift, getroud.

Die egpaar het na Suid-Afrika teruggekeer en sy het in Johannesburg die Wedu­wee se Stuiwer-sendingvereniging gestig. Maxeke is ook as president van die AME se Vrouesendingvereniging verkies. Sy het ’n werkverskaffingsburo vir swartmense in Johannesburg begin en was ook die eerste vrou wat as paroolbeampte vir jeugmisdadigers aangestel is.

In 1918 het Maxeke die voorloper van die vroueliga van die African National Con­gress (ANC) gestig. In daardie hoedanigheid was sy die leier van ’n afvaardiging wat met eerste minister Louis Botha* oor vroueregte gaan praat het.

Sidebar