MBEKI, THABO MVUYELWA

MBEKI, THABO MVUYELWA (1942–) is in Iditywa in die Transkei gebore as seun van Govan en Epainette Mbeki. Sy pa, vernoem na ’n sendeling* (Kyk by: William Govan), het self bekendheid verwerf as prominente “struggle”-leier. Mbeki het aan die Universiteit van Fort Hare uitgeblink en het later ’n meestersgraad in die ekonomie aan die Universiteit van Sussex verwerf. Mbeki se rol as politieke aktivis het in 1961 begin as lid van die ANC-jeugliga. Hy was ses maande in aanhouding voordat hy Suid-Afrika in 1962 verlaat het. Hy was in die buiteland onder meer ANC-ampsdraer in Londen (1967–1970) en het militêre opleiding in die Sowjet-unie ondergaan. In 1988 het hy ’n ontmoeting met hoofsaaklik Afrikaanse intellektueles onder wie Frederik Van Zyl Slabbert, André P Brink* en Breyten Breytenbach* in Dakar, Senegal, geïnisieer. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika het hy ’n sleutelrol in die onderhandelingsproses met die Suid-Afrikaanse regering gespeel. Hy het in 1994 mede-adjunk-president saam met FW de Klerk* in Nelson Mandela* se kabinet geword. In 1998 het hy president van die ANC en in 1999 president van Suid-Afrika geword.

As president was Mbeki meer pragmaties as sy alliansiegenote, Cosatu en die Kommu­­nistiese Party. Sy ekonomiese beleid het ver afgewyk van die sosialisties-kommunistiese idees en het vir Suid-Afrika tydens sy bewindstyd in sommige opsigte voorspoed gebring. Transfor­masie, swart bemagtiging, die herverdeling van grond en armoede­verligting was van sy belangrikste binnelandse beleidsoogmerke. Hy maak ook erns daarmee om die vrou in die politiek tot haar reg te laat kom en meer as 40% van sy ministers was vroue. Bui­te­lands reis Mbeki baie om veral die Nuwe Ekonomiese Plan vir Afrika te bevor­der. Hy werk onverpoosd om Suid-Afrika en Afrika* se beeld onder wêreldleiers te verhoog. Knelpunte in sy bewindstyd was onder meer swak administrasie, veral op die derde vlak van regering, die eskalasie van misdaad, die elektrisiteits­krisis (wat in sy regeringstyd nie voldoende aandag geniet het nie), sy houding teenoor die korrupte en wankelende Zimbabwe, en sy rampspoedige HIV en vigs-beleid. In 2007 is hy deur die ANC “herroep” en het hy onder omstrede omstandighede bedank as president. Daarna het hy van die plaaslike politieke toneel verdwyn, hoewel hy nog in vredesprosesse in Afrika ’n rol gespeel het.

Mbeki het volgens waarnemers in 2006 ’n draaipunt in sy benadering tot godsdiens bereik. Jare lank het hy godsdiens so te sê geïgnoreer. Toe, in 2006, het hy sy toespraak tydens die opening van die Parlement gebou rondom die Bybelboek Jesaja* en die nalatenskap van Nelson Mandela. Gerald West, professor in Godsdiensstudies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, skryf hieroor (Mail & Guardian, 23 Desember 2014): “Absent here was any backhandedness. The Bible has taken centre stage with Mandela, offering a vision that can be embraced by all South Africans, even the masses.” Later in 2006 het Mbeki selfs dieper in die Bybel gedelf, “seemingly wrestling with it to find a context for South African development. At times he was self-deprecating, joking about not becoming a priest, and at times he was clearly embarrassed to be doing so before cynical, well-heeled audiences. But he stuck with it.” Dit is bekend dat Mbeki se vrou. Zanele Dhlamini, ’n toegewyde Chris­ten was. Mbeki het in sy bewindstyd gereeld met kerk­leiers en godsdiensverteenwoordigers in ge­sprek getree en was gretig dat die kerk ’n betekenis­volle rol in die land moet speel.

Sidebar