MBITI, JOHN SAMUEL

MBITI, JOHN SAMUEL (1931–) is in Mulan­go, Kitui, in Kenia gebore. Hy word “die vader van die hedendaagse Christelike geloof in Afrika” genoem en sy werk oor die Nuwe Testament*, tradisionele Afrika­gods­diens(te) (Kyk by: Afrika-tradisionele religie) en ander wêreldgodsdienste is wyd gepubliseer. Sy bekendste publika­sies sluit in African Religions and Philo­sophy, New Testament Eschatology in an African Background, Concepts of God in Africa, Love and marriage in Africa, The Prayers of African Religion en Bible and Theology in African Christianity.

Sedert die vroeë 1960’s vra Mbiti dat meer aandag gegee word aan die verhou­ding tussen die evangelie* en die plaaslike kultuur*. Die huidige groei van Afrika-inisiatief-kerke*, wat die Christelike geloof en Afri­ka­kultuur wil integreer, bevestig die be­staan van so ’n behoefte. Mbiti beywer hom daarvoor om aan te dui dat Jesus Christus* empatie het met en relevansie het vir ’n Afrikakonteks wat tradisioneel is, maar terselfdertyd oopgestel is vir ’n moderne lewens­wyse.

Mbiti was voltyds pastor in die Her­vormde Kerk in Bern, Switserland, waar hy in 1981 tot die bediening toegetree het en waar hy aangebly het tot sy aftrede in 1996. Vir hom was die Bybel* die gids vir en onvervangbare werktuig van teologiese nadenke en onderrig.

 

Sidebar