McCANN, OWEN

McCANN, OWEN (1907–1994) was die eerste Suid-Afrikaner wat ’n kardinaal* van die Ka­to­lieke Kerk* geword het. Hy is in 1935 tot pries­ter*2 georden. In 1941 het hy redakteur geword van The Southern Cross*, Sui­der-Afrika se Katolie­ke koerant, en hy beklee dié pos tot in 1948. In 1986 het hy weer die redakteurstoel van The Southern Cross ingeneem en nog vyf jaar redakteur gebly.

Tussen 1961 en 1974 dien hy as president van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskop­pe­konferensie waar hy betrokke was by ver­skeie beraadslagings met die regering om ’n oplossing vir die land se politieke pro­bleme te probeer vind. McCann het in 1984 ’n ereburger van Kaapstad geword. In 1988 het hy pous Johannes Paulus II* op sy be­soek aan vyf Suider-Afrikaanse lande vergesel.

Ná sy dood het aartsbiskop Lawrence Henry van Kaapstad in ’n huldeblyk gesê McCann het gevorder van ’n gewone klerk in diens van die Suid-Afrikaanse Spoorweë tot “die prins van die kerk”. Die St Joseph-Universiteit in Maine, Amerika, het in 1984 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken en die Universiteit van Kaapstad in 1968.

 

Sidebar