McCAULEY, RAY

McCAULEY, RAY (1949–) het met die stigting van die charismatiese Rhema-kerk in Randburg in 1979 vol­tyds tot die bediening toegetree, en was in 1984 een van die stigterslede van die Internasionale Federasie van Christen-kerke (IFCC). Hy was ná 1994 se staatkundige ver­anderings in Suid-Afrika ook ’n stigterslid van die National Interfaith Leaders Council (NILC) wat in ANC-regeringskringe al hoe meer as spreekbuis van kerke en geloofsgroepe beskou is – ten koste van bv die die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, verteenwoordiger van hoofstroomkerke in die land. McCauley het as prediker en televisiepersoonlikheid groot bekendheid in Suid-Afrika verwerf. In die tyd dat Jacob Zuma* president van Suid-Afrika was, het McCauley ’n goeie verhouding met hom opgebou en nie geskroom om in omstrede situasies aan die president se kant te staan nie. McCauley, voor­heen ’n liggaamsbouer, stel baie in sport be­lang en is in ’n stadium as die nie-amptelike geestelike versorger van die Suid-Afrikaanse krieket­span beskou. Hy is die skrywer van verskeie boeke.

Die Rhema-kerk het ’n televisie-de­partement (RTV) wat godsdiensprogramme maak en uitsaai. RTV produseer meer as 80 uur se programme per maand wat onder meer op DSTVuitgesaai word, en waarin McCauley dikwels optree. Van RTV se programme word ook aan televisienetwerke in die buiteland verskaf.

Kritiek teen die Rhema-kerk is onder meer dat dit ’n “prosperity cult” is. “It teaches you that wealth is the same as happiness and that all this is possible if you give money to Ray McCauley”, het Jacques Rousseau, ’n dosent aan die Universiteit van Kaapstad wat navorsing in dié verband gedoen het, aan die Britse koerant The Independent gesê (19 Februarie 2015). ’n Groot aantal invloedryke mense en sportsterre behoort aan die Rhema-kerk wat nagenoeg 50 000 lede het (2015).

McCauley se 24 jaar-lange huwelik met Lyndie het in 2000 in die skeihof geëndig. Hy is op 28 Julie 2001 met Zelda Ireland getroud tydens ’n plegtigheid wat deur 6 000 mense bygewoon is.

 

Sidebar