McGAVRAN, DONALD

McGAVRAN, DONALD (1897–1990) het bekendheid verwerf met sy sogenaamde “kerkgroei-beweging” (Church Growth). Die benadering wat deur hom en Arthur Glasser gevolg is, kom daarop neer dat kerke en sending*organisasies hulle sendingaksies so moet inrig dat die grootste mate van groei bereik word. Hy is as sendelingkind in Indië gebore. In sy be­langwekkende werk The Bridges of God be­vraagteken hy twee sake wat in die sen­­ding ’n groot rol gespeel het. Die eerste is die klem op indiwidualisme in die sending. Hy was van mening dat die klem op indiwiduele bekering* eerder vervang moet word met klem op groep- of gemeenskapsbekering. Die tweede is die klem wat geplaas is op sendingstasies. Volgens hom moes die sendingstasie net die beginpunt van verdere groei deur die plaaslike kerk* en inheemse kerkleiers wees. Die konsep van “People Movements” het daartoe gelei dat daar veral in gebiede soos Indië besondere groei in die kerk was. Alhoewel daar soms skerp kritiek teen die beskouings van McGavran gelug is – veral oor sy klem op getalle – is daar tog van sy insigte wat steeds in die sending van groot belang is, veral sy beklemtoning van familie-evangelisasie.

Vir verdere lees: GE Anderson en andere (red). 1994 Mission Legacies: Biographical Studies of Leaders of the Modern Missio­nary Movement. New York: Orbis.

 

Sidebar