McGREGOR, ANDREW

McGREGOR, ANDREW (1829–1918) is in Skotland gebore en het sy hoërskool­opleiding in Edenburgh ontvang. Hy het ook daar sy universiteitsopleiding in wiskunde ontvang. In 1852 skryf hy vir teologie* in by die kollege van die Vrye Kerk van Skotland in Edinburgh. Ná sy legitimasie het hy hom vir sendingwerk in China* aangebied, maar sy brief het die boot na China verpas, en hy het dit beskou as ’n aanduiding dat die Here* hom elders wil gebruik. Dr William Robertson* van Swellen­dam vra dat hy Kaap toe moet kom, en in 1862 het hy na die Kaap vertrek. Alhoewel sy bagasie – meubels en boekery – reeds aan boord was, het hy die skip verpas. Later het hy met ’n Nederlandse skip vertrek. Die Britse skip het by Groenpunt op die rotse geloop met verlies van die hele vrag. McGregor het aanvanklik ’n paar weke op Swellendam gepreek – in Neder­lands – en het dadelik op dr Robertson se dogter verlief geraak. Hy en sy bruid is in September 1862 as pastoriepaar van Ro­bertson ontvang.

McGregor het Robertson se Sondagskool* tot ’n model uitgebou. In 1870 het hy begin om pamflette met Sondagskoollesse uit te gee wat in 1881 uitgeloop het op die eerste uitgawe van De Kindervriend, ’n tydskrif vir Sondagskoolonderwysers wat tot in 1972 bestaan het. In 1899 het hy sy eie katkisa­sieboek die lig laat sien, Het Nieuwe Catechisatieboek. Hy was ook verantwoor­delik vir Zionsliedere. Die Wes-Kaapse dorp McGregor is na hom vernoem.

Sidebar