MEDITASIE

MEDITASIE is ’n intensiewe, geestelike/spirituele fokus op bv religieuse dokumente, tekste of God. Dis ’n rituele losmaking van daaglikse ritme ten einde tyd te maak vir spirituele refleksie/nadenke oor die menslike self/lewenservarings binne ’n verskerpte bewussyn van God se teenwoor­digheid. Meditasie is ’n vorm van geestelike dissipline (afsondering) met ’n toepaslike lig­gaamsposisie en ’n ontspanne gemoed binne ’n rustige, stil omgewing.

Dit kan gesien word as: 1. ’n Konsentrasie rondom ’n bepaalde idee, ervaring, objek van toewyding of geestelike onderwerp. 2. ’n Proses van eksternalisering en bewus raak van ’n buite-omgewing, natuur. 3. Ont­le­diging. Oosterse godsdienste fokus op ’n mentale toestand wat ’n leegmaak/skoonmaak van gedagtes en persepsies veronderstel (vgl Joga). 4. Vorms van kontemplasie, innerlike besinning. 5. Gestruktu­reer­de meditasiegeleenthede, soos ’n spi­rituele retraite*/retreat.

In die breër Christelike tradisie is voorbeelde van spirituele oefeninge/geestelike dissipline: Ignatius Loyola*, Jacob Bühme, St John of the Cross. In die Katolieke* tradisie: die Benediktynse* dissipline van luister na die Woord/Skrifvoorlesings. In die Protestantisme* is meditasie in die 17de eeu verbind met godsvrug/piëteit, gebeds­toewyding. Dit kan ook in verband staan met die vas*.

Die verskil tussen Christelike meditasie en dié van Oosterse godsdienste, is dat eersgenoemde meer fokus op ’n verstaan van God en nadenke oor die betekenis van Bybeltekste, en minder introspekief en filosofies van aard is. Christus* bied self ’n voorbeeld van afsondering – vgl Mark 1:35.

Vir verdere lees: H Coward, 1990. “Medi­ta­tion” in RJ Hunter (red) Dictionary of Pastoral Care and Counseling. Nashville: Abingdon. W Nicol 2002. Gebed van die hart: Word stil en beleef God. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar