MEIRING, ARNOLD MAURITIUS

MEIRING, ARNOLD MAURITIUS (1906–1984) is in Graaff-Reinet gebore. Ná sy teologiese opleiding aan die Kweekskool* op Stellenbosch en die Teologiese Semina­rium te Princeton (VSA), is hy in 1932 as medeleraar van sy pa, ds PGJ Meiring*, in die gemeente Rondebosch bevestig. In 1938 het hy na Transvaal verhuis waar hy in drie gemeentes gewerk het: Johannesburg-Oos (1938–1951), Heidelberg (1951–1961) en Pretoria-Oos (1961–1970). As voorsitter van die Sinodale Kommissie vir Openbare Sedelikheid het hy saam met die sekretaris, ds DFB de Beer*, ’n stryd teen misstande in die samelewing aangeknoop. Hulle grootste sukses was die afskaffing van hondewed­renne en die dobbelary wat daarmee gepaard gegaan het (1949). Hy het jare lank as assessor (ondervoorsitter) van die Transvaalse NG Sinode gedien, totdat hy in 1957 as moderator* verkies is. In 1960 het hy die Transvaalse afvaardiging na die Cottesloe*-konferensie gelei. Ná die beraad was daar groot kritiek in die kerk teen die slotverklaring van die vergadering wat krities oor aspekte van die apartheidsbeleid* was, en al die NG sinodes* het hulle daarteen uitgespreek. Meiring was die enigste lid van die vorige Transvaalse Modera­tuur wat in sy amp herkies is. Die laaste twintig jaar van Meiring se lewe het hy aan die slepende Parkinson-siekte gely, maar tog tot maande voor sy dood as hospitaalbearbeider gearbei. Hy is in 1937 met So­phie Kloppers getroud wat as skrywer en radiopersoonlikheid haar plek langs haar man volgestaan het.

 

Sidebar