MEIRING1, PIETER GERHARDUS JACOBUS

MEIRING1, PIETER GERHARDUS JACOBUS (1866–1938) was redakteur van De Kerkbode*, amptelike blad van die NG Kerk*, wat in sy tyd Die Kerkbode geword het. Meiring was NG predikant van Ronde­bosch toe hy ’n tyd lank deeltyds as redakteur waargeneem het, en het ’n benoeming as voltydse redakteur bedank voordat hy in óf 1921 óf 1923 (bronne verskil oor die jaartal) ’n tweede benoeming aanvaar het en die voltydse redakteur geword het. Hy sou dit tot met sy dood in 1938 bly. In sy tyd het De/Die Kerkbode een van die mees gelese blaaie in Suid-Afrika geword. Meiring was ’n vriend van prof Johannes du Plessis*, vroeëre redakteur van De Kerkbode, en die Du Plessis-saak van die 1920’s en 1930’s het die kerk se blad en sy redakteur onvermydelik betrek. Boonop was Meiring in dié tyd ook lid van die kuratorium (kerklike kommissie met toesig oor die Kweekskool*) wat die leersaak teen Du Plessis gedryf het. Meiring het probeer om ’n “neutrale” posisie in sy blad te handhaaf, maar juis dit is hom ten laste gelê: die beswaarmakers teen Du Plessis wou opsluit hê dat Meiring en sy blad die “amptelike”, behoudende standpunt moes steun. Die gevolg was dat Mei­ring sy redakteurstoel op eie versoek vir ses maande (April tot Augustus 1931) ontruim het om kans te gee dat “toestande weer nor­maal” word.

Vir verdere lees: André Olivier 1998. Bode op die spoor van die Woord. Kaap­stad: Lux Verbi.

Sidebar