MELANCHTON, PHILIP

MELANCHTON, PHILIP (1497–1560). Melanchton is die Griekse* vorm van sy eintlike van: Schwarzerdt (swart grond), en is deur sy grootoom, Johannes Reuchlin, aan hom gegee nadat hy hom op twaalfjarige ouderdom by die Universiteit van Heidel­berg laat inskryf het. Twee jaar later verwerf hy sy BA. Op 17 kry hy sy MA by Tübingen. Die volgende jaar het hy by die universiteit begin klasgee. Toe hy 19 was, het Erasmus* met groot lof van hom gepraat. In 1522 het hy Luther* gehelp met die afronding van sy Bybelvertaling* in Duits. In 1523 word hy rektor van die Universiteit van Wittenberg. Daar het hy Luther heelwat vroeër ontmoet wat tot ’n lewenslange vriendskap gelei en Melanch­ton vir die saak van die Reformasie* gewen het. Hy het die huldeblyk op Luther se begrafnis gelewer. Melanchton kan gesien word as die intellektuele krag agter die Reformasie.

In 1530 het Frederik die Wyse* ’n verga­dering byeengeroep. Hy wou hê dat die koninkryk ’n verenigde front teen die Turke moes vorm en dat alle godsdienstige on­enig­heid tot ’n einde moet kom. Frederik wou dat ’n gesamentlike verklaring opge­stel word van wat die mense van die land glo en uitleef. Dié dokument, wat Melanch­ton voorberei het, het uiteindelik bekend geword as die Augsbergse Konfessie*.

Melanchton is langs Luther in die kasteelkerk in Wittenberg begrawe.

 

Sidebar