MEN, ALEKSANDR WLADIMIROWITSJ

MEN, ALEKSANDR WLADIMIROWITSJ (1935–1990) is in Moskou gebore. Toe hy sewe maande oud was, is hy saam met sy ma in die verbanne Katabombe-kerk, ’n afdeling van die Russiese Ortodokse Kerk* wat geweier het om met die Sowjet-owerheid saam te werk, gedoop. Hy is in 1960 as priester*2 georden.

Men het gou groot invloed gehad en plaas­lik en in die buiteland het hy goed oor die weg gekom met sowel Katolieke* en Protestantse* as Ortodokse geestelikes. In die vroeë 1970’s het hy opgang gemaak in die Russiese godsdienstige gemeenskap, veral onder die intelligentsia. Sy evangeliese en missionêre (sending-*) werk het die Sowjet se geheime diens, die KGB, hoofbrekens be­sorg en hy is gedurig deur hulle lastig geval. Men was in 1990 een van die grondleggers van die Russiese Bybelgenootskap*. In dieselfde jaar het hy met ’n oop Ortodokse universiteit begin.

Later dié jaar, in September, terwyl hy op ’n Sondagoggend van sy huis stasie toe gestap het om elders ’n diens te gaan hou, is hy met ’n byl doodgekap. Ten spyte van ver­klarings deur die destydse Sowjetregering, is die moord nooit opgelos nie. Sedertdien is daar ’n kerk gebou op die plek waar hy vermoor is.

Men het ná sy dood ’n omstrede figuur ge­word: sommige het dit oor sy Joodse* agtergrond, ander beskuldig hom van kettery*, veral die fundamentalistiese groep in die Ortodokse Kerk. Oor die algemeen word hy egter beskou as dié persoon wat Christus* aan duisende burgers van die Sowjetunie bekend gestel het. Sy talle publikasies, veral sy Son of Man, het grootliks daartoe bygedra.

Sidebar