MENDELSSOHN BARTHOLDY, JA­KOB LUDWIG FELIX

MENDELSSOHN BARTHOLDY, JA­KOB LUDWIG FELIX (1809–1847) se oupa, Moses Mendelssohn, was een van die bekendste Joodse* filosowe van sy tyd, maar sy kleinseun het as oortuigde Christen* groot­geword, en was nooit skaam om sy geloof in die openbaar én in sy musiek te bely nie. Hy was skaars sestien toe hy sy Midsomernag-overture gekomponeer het. As jong komponis is hy na Engeland genooi, waar hy gou die liefling van die publiek – en van die jong koningin Victoria en haar man, prins Albert – geword het. Hy het egter nie net meesleurende orkes­musiek geskryf nie. Sy diep godsdienstige oortuigings én sy afhanklikheid van die Here* is oral in sy werk aan te tref: in sy be­kende Lofgesang-simfonie (Simfonie Nom­mer 2) waar die koor en soliste die lof van die Here besing, sy Reformasie-simfonie (Nommer 5), wat die eerste drie honderd jaar van die Lutherse Augsburgse Kon­fessie* herdenk en waarin die melodie van “’n Vaste burg is onse God” (Lied 476 in Liedboek van die kerk*) so ’n belangrike rol speel, asook in die aangrypende geestelike liedere wat hy gekomponeer het. Maar dit is veral in sy oratoriums wat Mendelssohn se diepste oortuigings gehoor word. Sy Elia-oratorium wat skaars ’n jaar voor sy dood voltooi is, het prins Albert so aangegryp dat hy ’n lang en ontroerende dankwoord op die komponis se eie partituur geskryf het. Vir baie jare het die Elia-oratorium Händel* se Messias in Engeland in gewildheid oortref. Een van die mooi Kersliedere in die Liedboek van die kerk, Lied 365, “Hoor die blye eng’lelied”, is deur Mendelssohn ge­kom­poneer.

 

Sidebar