MENS, OU MENS, NUWE MENS

MENS, OU MENS, NUWE MENS. Wan­neer die Bybel* oor mense praat, is dit altyd in verhouding tot God, bv dat hulle deur God geskep is, gehoorsaam of ongehoorsaam aan God is, en deur God verlos of gestraf word. As gevolg van hulle sonde* is hulle verhouding met God verbreek en is hulle uitgelewer aan die “ou mens”. Dit beteken dat hulle lewe gerig is op die najaag van hulle eie sondige begeertes. Wanneer God mense egter deur Christus* verlos (Kyk by: Redding), word hulle “nuwe mense”. In Gal 6:15 en 2 Kor 5:17 praat Paulus* hiervan as ’n “nuwe skepping”. Daarmee beklemtoon hy dat dit God is wat hierdie ingrypende verandering tot stand bring. Mense wat verlos is, is egter nooit volledig ontslae van hulle “ou mens” nie; hulle beleef dikwels innerlike worste­ling tussen die “ou” en die “nuwe” mens (Rom 7). Dit is hoekom gelowiges pertinent opgeroep word om as nuwe mense te lewe (Kol 3:10). Dit beteken dat hulle onder die beheer van die Heilige Gees* moet lewe (Gal 5:13-26).

In Ef 2:15 word die uitdrukking “nuwe mens” ook gebruik (1933/1953-Afrikaanse Ver­taling; 2014-Direkte Vertaling)), maar in hierdie geval word nie van ’n indiwiduele mens gepraat nie, maar van die “nuwe mensheid” wat deur Christus se kruisdood tot stand gekom het (soos die 1983-Afrikaanse Vertaling dit ook vertaal).

 

Sidebar