MENSEREGTE (CHRISTELIKE SIE­NING)

MENSEREGTE (CHRISTELIKE SIE­NING). Hoewel die meeste Christelike kerke nie die menseregtebeweging wat ná die Tweede Wêreldoorlog* op gang gekom het, teengestaan het nie, het die teleurstellende reaksies daarop die kerke verplig om van 1970 af sterk aandag te gee aan die teo­logiese* begronding van menseregte. Die ge­skiedenis van die vertraagde ondertekening van menseregteverdrae van 1966, die bur­gerlike onrus in die VSA en Europa en die swak rekord van die nuwe bevryde Afrika­lande, het die kerke oortuig dat daar ’n sterker, dit wil sê godsdienstige, motivering nodig was. So het onder andere die Kato­lieke*, die Lutherse* Wêreldfederasie en die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke* van 1970 af intensiewe studies onderneem en met Christelike menseregtemodelle na vore gekom wat gegrond was op hulle eie on­der­­skeie teologieë.

Met name die gereformeerdes* het sterk klem geplaas op die Bybel*. Sommige het as vertrekpunt die Tien Gebooie*, of die Ek­so­dus*gebeure, of die Bergrede*, of ook die liefdesgebod* geneem, maar die meeste het besef dat dit oor die volle openbaring gaan, en dat die kern van menseregte met die werk­like hart van die evangelie* te maak het. Die breë riglyne van die Skrif is daar­om as vertrekpunt geneem: God se skeppingswil ten opsigte van die mens as sy beeld, die verskillende dimensies en verhoudings van menswees, die sondeval*, die versoening* en genade* en die roeping* van gelowiges in die wêreld. Dit was gou duidelik dat die Bybelse beskouing van die kerk*, asook sentrale Bybelse begrippe soos geregtigheid*, liefde*, barmhartigheid*, waarheid*, menswaardigheid, vryheid en vrede, hierdie menseregtemodel van die begin af sou moes vorm. Die wyse van die mens se skepping, sy/haar moontlikhede, sy/haar onaantasbaarheid, sy/haar reg op lewe, vryheid en gelykheid, sy/haar bedoelde medemenslik­heid (huwelik*, gesin*, gemeenskap ens), sy/haar roeping ten opsigte van die skepping (ar­beid, eiendom, kultuur, ens) het ’n skerper belyning van ’n gereformeerde mensereg­tebeskouing moontlik gemaak.

Hierdie sentrale Bybelse begrippe en an­tro­pologiese riglyne behels belangrike kritiek op verengde sekulêre menseregte-op­vat­tings, maar veral ook ’n oproep tot ’n nuwe spiritualiteit*. Hierdie spiritualiteit is gegrond in die wete van God se groot ge­nade wat alle mense in hulle volle mens­heid handhaaf en van ons onvoorwaardelike respek vir elke mens vereis. Gelowiges behoort nie net ander mense hulle regte te gun nie, maar behoort self ook mee te werk aan die verwerkliking van ander se mense­regte. Juis omdat sulke etiese imperatiewe nie altyd in wetgewing vertaal kan word nie, is dit ’n dringende verantwoordelik­heid van gelowiges en kerke om hierdie Christelike menseregtesiening uit te leef.

 

Sidebar