MENSEREGTE (DEFINISIE EN GE­SKIE­DENIS)

MENSEREGTE (DEFINISIE EN GE­SKIE­DENIS). Menseregte word gesien as dié regte wat onaantasbaar is en van alle mense van alle tye en plekke op gelyke wyse geld. Hierdie primêre regte, wat met vele variasies beskryf word, het veral met die lewe, vryheid, eiendom, geluk en veiligheid van elke mens te maak. In enger sin word die term ook gebruik vir gepolitiseer­de norme* wat regtelik en konstitusioneel gewaarborg word.

Hoewel sommige meen dat die basiese idee van menseregte sover teruggaan as die Nuwe Testament*, die Griekse* filosofie en selfs die Ou Testament*, is die eerste rasio­nele begronding daarvan die natuurregleer (onder andere Hobbes en Locke*). Hierby sou die vroeër gedagtes in filosofie en godsdiens (onder andere die Hervorming*) ’n rol speel. Menseregteverklarings in die mo­derne sin van die woord is onder andere die Virginian Bill of Rights (1776), die Ver­kla­ring van Mense- en Burgerregte (Frank­ryk 1789) en die Universele Verklaring van Menseregte (VVO/VN, 1948). Daarna het ’n lang reeks verklarings die lig gesien oor rassis­me*, dwangarbeid, slawerny*, volks­moord*, die regte van minderhede, kinders, vroue, gevangenes, vlugtelinge ens. Daar bestaan ook kontinentale streekver­klarings, terwyl menseregte permanent op die agenda van nie-regeringsorganisasies en kerke is. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bevat ook ’n mensregtemanifes. Die fondament van menseregte is die onaantasbaarheid en waarde van die mens en sy lewe. Dit beskerm die mens teen die owerheid en ander mense (stemreg, toegang tot ampte, vrye toegang tot en gelyke behandeling deur die regstelsel, vryheid van godsdiens, spraak, beweging en assosiasie, die reg op lewe en bestaansnoodsaaklik­hede ens). Naas hierdie siviele of burgerlike regte het daar ook bygekom aller­lei sosiale en ekonomiese regte (soos onderwys, opleiding, arbeid, lone, huisves­ting) en laastens ook die regte van die skepping en die nageslag.

Vir verdere lees: DA du Toit (red) 1984. Menseregte. Kaapstad: Tafelberg

 

Sidebar